Ons het reeds gister gesien dat die Heilige Gees ons oortuig van ons sonde.
Daar is nog twee belangrike dinge wat die Gees doen, volgens Jesus.

Die eerste is dat die Gees die wêreld sal oortuig dat die reg aan Jesus se kant is,
want Hy gaan na die Vader toe – Joh. 16:10. Die wêreld het Jesus voor die wêreld
se regbank gebring en Hom, die Onskuldige, skuldig bevind. Die wêreld het gemeen
dat die reg aan hulle kant is. Die Heilige Gees kom maak die saak as’t ware weer oop.
Die Gees wys die wêreld dat Jesus triomfeer oor die vonnis van die dood.

Sy opstanding uit die dood en sy verhoging aan die regterhand van God is die bewys
van sy onskuld. Die reg is aan Jesus se kant! Die Heilige Gees onderstreep die seën
van God wat op die Verlossingswerk van Jesus rus. Hy oortuig:
Jesus ís waarlik die Here!
Dit is die werk van die Heilige Gees om Jesus te ver- Heer-lik!

Die Heilige Gees oortuig ons van wat Jesus vir ons gedoen het!
Die Heilige Gees laat ons nie net praat van ons geestelike ervarings nie,
maar laat ons veral getuig van Jesus. Niemand kan immers sê
“Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Gees! – 1 Kor. 12:3.
Sê dit oral, getuig dit oral: Jesus is die Here! Wys dit met jou lewe!
Dit is alles die werk van die Gees in jou!...

Die Heilige Gees sal nie net 1) die wêreld oortuig van sonde, en
2) dat die reg aan Jesus se kant is nie. Daar is ook die derde belangrike
wat Jesus noem:
Die Heilige Gees sal 3) oortuig dat die oordeel al gekom het – Joh. 16:8,
want die owerste van hierdie wêreld, die Satan, is klaar veroordeel – Joh. 16:11.

Net soos met die feit van ons eie sondigheid, moet die Heilige Gees ons
hiervan oortuig, dat die Satan klaar veroordeel is! Die Bose is reeds oorwin!
Ons dink die Bose lyk so aktief en só magtig. Ons sien wat in die wêreld gebeur
en glo moeilik dat sy mag reeds gebreek is. Christus het hom egter reeds getroef
en kragteloos gemaak! Die Gees bewerk die geloof in ons dat Jesus ook die Here
oor die Bose is! Die Bose ís verslaan. Die Heilige Gees laat ons verby die Bose se
vertoon van mag kyk, na Jesus!...Die Oorwinnaar is Jesus! Die Gees sê:
Kyk na Jesus! Sien Jesus!
Moenie toelaat dat die Bose jou uitsig op Jesus belemmer nie!
Laat die Gees jou oë oopmaak en gevestig hou op Jesus!
Leef in Hom, deur die Gees!

Ernest