Ons bely in ons Geloofsbelydenis, die 12 Artikels: “Ek go in die Heilige Gees.”
Die Heilige Gees lei ons in die waarheid! Dit is oneindig kosbaar. Jesus sê in
Johannes 16:13: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle
in die hele waarheid lei...” Dit is wonderlik! Wat behels hierdie waarheid?
Ten eerste is dit die waarheid oor sonde, reg en oordeel – Joh. 16:8.
Ons het dit die afgelope twee dae oordink. Maar die Gees lei ons veral ook
in die waarheid oor Jesus – Joh. 16:14. Die Gees maak ons sensitief vir die
waarheid. Die Gees maak ons lief vir die waarheid en wil ons die waarheid
laat leef. Die Gees dui die koers aan en wys ons op gevare en die leuen.
Wat ‘n versterking vir ons geloof om te weet:
Die Gees lei ons in die hele waarheid.

Ons kan natuurlik die Gees ignoreer. Ons kan hardnekkig ons eie kop volg.
Ons kan die waarskuwings van die Gees verontagsaam. Ons kan in die donker
bly staar omdat ons hardkoppig ons eie kop volg. Dit is dodelik. Fataal. Dom.
Daarom: Wees regtig oop en ontvanklik, sensitief vir die stem van die Heilige
Gees. Hy lei jou in die hele waarheid.

Die Heilige Gees laat ons ook die heerlikheid van God sien! Dit is ook so
wonderlik versterkend vir ons geloof. Die werklike lewe met sy onsekerhede,
sleurgang, stres en trauma kan maklik ons uitsig op die heerlikheid van God
verduister, terwyl dit juis in alles rondom ons sigbaar is. Die Heilige Gees maak
ons oop vir die heerlikheid van God en laat ons dit sien, selfs in die moeilikste
omstandighede, selfs in die aangesig van die dood.
Ons lees dat Stefanus, kort voordat hy gestenig is, vol van die Heilige Gees
opgekyk het na die hemel en die heerlikheid van God gesien het, en Jesus
wat aan die regterhand van God staan – Handelinge 7:55.

Jesus het met sy kruisdood ons oë vir die eerste keer kom open om God te sien.
Hy is as’t ware die venster wat tussen ons en God oopgemaak is, waardeur ons
die heerlikheid van God kan sien. Hierdie uitsig word van tyd tot tyd belemmer
deur ons eie sonde. Die venster word van ons kant vuil en ondeursigtig.
Die Gees kom vee telkens die venster skoon! Hy hou die uitsig wat Jesus
vir ons kom open het, oop en skoon!

Moontlik beleef jy die afgelope tyd so min van God in jou lewe.
Jy sien so min van Hom in die wêreld rondom jou. Dit wat jy wel sien is vir jou
onduidelik en onverstaanbaar. Moenie moed verloor nie. God is steeds daar,
in sy heerlikheid. Jesus is steeds aan die regterhand van God. Die Heilige Gees
wil steeds vir jou die heerlikheid van God laat sien!
Kniel in aanbidding en belydenis. Ontvang die waarheid waarin die Gees jou
wil lei. Sien die heerlikheid van God! Dit is daar! Hy is daar! By jou!

Ernest