Matteus 20:30-31 vertel:
“Twee blindes wat langs die pad gesit het,
het gehoor dat Jesus daarlangs verbygaan.
Hulle roep toe aanhoudend:
“Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”
Die skare het hulle aangespreek en gesê hulle moet stilbly,
maar hulle het net nog harder geroep:
“Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

Ontferming!
Ons almal soek ontferming.
Twee tipiese reaksies kom uit die noodroep van die blindes.
Óf mense raas met jou, soos die skare, óf mense help jou, soos Jesus.

Net na 9/11 het ‘n klomp jongmense in ‘n restaurant in New York ingestorm en dit vernietig.
Dit het behoort aan ‘n man van Midde-Oosterse afkoms.
Die jongmense het hom nou as die vyand gesien.
Die polisie het die plunderaars nog dieselfde aand in hegtenis geneem.
Toe die eienaar gevra is of hy hulle wil aankla, het hy geweier.
Hy het gesê hy kan nie sien hoe dit dinge beter sou maak nie.
‘n Paar uur later het die jongmense na die restaurant teruggekeer.
Hulle het verskoning gevra en die res van die nag help opruim.
Hulle het ook bly help om die restaurant te herstel.

Die eienaar het op so ‘n manier opgetree,
dat dit die beste uit die jongmense gehaal het.
Hy het soos Jesus gemaak.
Hy het hulle gegee wat hulle die nodigste gehad het: ontferming!
Nie die straf wat hulle verdien het nie.

Hoe tree ons op?
Soos die skare, of soos Jesus?
Moenie mense verhoed of terughou, om by Jesus uit te kom nie.

Ernest