Die Heilige Gees werk met elkeen van ons persoonlik, op ‘n unieke wyse.
Hy neem in ag wie en wat ons is. God het elkeen van ons uniek geskep,
al is daar verskillende persoonlikheid-tipes. Jy is steeds uniek, enig in jou
soort, in die ewigheid! Behalwe daarvoor, is jy ook enig in jou soort in jou
konteks van familie, vriende en ander omstandighede, in jou werklikheid.
Net jy het jou kombinasie van vriende, familie, kollegas en wat jy ookal
nog jy aan kan dink. Jy is werklik uniek in jou lewens-konteks.
God het jou so geskep en jou in daardie konteks geplaas om
Hom daar te verteenwoordig in wie en wat jý is.
Met bogenoemde in ag genome, is dit belangrik dat jy nié daarna moet
hunker dat die Gees in jou lewe presies só moet werk soos in iemand
anders se lewe nie. Die Gees dupliseer nie. Die Gees werk met jóú op
‘n unieke manier. Sy werk met jou is altyd persoonlik! Dit wat Hy in jou
lewe doen, is daarom wonderlik! Dit is deel van God se plan vir jou lewe!
Dit geld ook vir die gawes van die Gees aan jou en aan die kerk van
Jesus Christus. Die gawes verskil van persoon tot persoon, maar almal
word deur dieselfde Gees gegee. Tot opbou van die kerk en die gelowiges.
“Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel
van almal.” – 1 Kor. 12:7.
Ons het almal minstens een gawe ontvang. Almal ontvang nie alles nie,
maar niemand ontvang niks nie. Dien die Here met jou gawe, of gawes.
In sy wysheid en genade wil die Gees ons gebruik. Almal van ons in sy
diens tot eer van God. Niemand moet dink dat sy gawe minder belangrik
is as die van ander nie. Dikwels is juis die gawe wat die minste opvallend
lyk, die belangrikste vir dit wat die Gees in die omstandighede met mense
wil doen. Lees gerus 1 Kor. 12:22-23 hieroor.
Ons kan bid: Gees van God, ek dank U dat daar niemand soos ek is nie,
en dat U uniek deur my wil werk. Gee dat ek U en ander met my uniekheid
sal dien in gehoorsaamheid aan U.
Ernest