Alle gelowiges ontvang minstens een gawe van die Gees.
Die één gawe wat almal egter ontvang is die gawe van die liefde!
God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat
Hy aan ons gegee het.” – Rom. 5:5. Geen gelowiges is sonder die
Gees nie, en daarom is ook geen gelowige sonder die gawe van
die liefde nie. Die liefde is daarom die allerbeste gawe – 1 Kor. 13:1.
Sonder die liefde is al die ander gawes sonder betekenis en baat
dit ons niks – 1 Kor 13:1-3.
Ons moet baie meer besef watter potensiaal vir liefde in ons
teenwoordigheid is. Dit wat die wêreld met sy haat en onvrede die
nodigste het, is in kinders van God! God se liefde! Die gawe van liefde
deur die Gees van God! Dit is in jou! Dalk kan jy nie soos groot
evangeliste skares toespreek nie. Dalk kan jy nie groot barmhartigheid
aksies van stapel stuur nie. Moontlik beskik jy nie oor ‘n baie goeie
kennis van die Woord van God nie. Maar, die beste, die allerbeste!...
dit hét jý!
Gebruik vandag die gawe van die liefde wat die Gees verseker aan
jou gegee het. Juis daarom kry ons almal die opdrag om lief te hê!
Juis dit onderskei jou as kind van God van die res van die wêreld.
Hierdie gawe van die liefde wat die Gees aan jou gee is anders as
maar net gewone menslike liefde. In hierdie wêreld word baie oor
liefde gepraat. Die liefde van die wêreld verloor eintlik sy impak
weens die óórgebruik en misbruik van wat liefde werklik is.
Ook die menslike liefde is aangetas deur die sonde. Dit het ‘n
selfsugtige liefde geword. Menslike liefde draai om onsself. Ek het
lief omdat dit vir mý iets kan beteken. Die liefde en geliefde moet
vir mý waarde hê. Ek is die fokus.
Die liefde wat die Gees in ons harte uitstort is anders.
“Dit soek nie sy eie belang nie.” – 1 Kor. 13:5. Dit is nie afhanklik
van wat iemand anders vir mý beteken, of vir wat ek uit die
verhouding kan kry nie. Die liefde van die Gees as gawe in my,
wil eerder vir die ander iets beteken. Hierdie liefde gee en gee
sonder ophou. Dit gee aan die ánder die waarde wat God deur
die liefde wil gee. Dit kan ek net doen as ek oorweldig word deur
die besef dat God my so liefgehad het ten spyte van...!
Hy het aan my die waarde gegéé van die reg om sy geliefde kind
te wees! Kan ons dan anders as om só lief te hê?
Die Heilige Gees maak dit vir ons moontlik!
Ons kan bid: Heilige Gees, vervang tog my waardelose liefde
met U waardevolle liefde.
U liefde wat waarde aan my en aan ander gee.
Ernest