1 Korintiërs 13:8: “Die liefde vergaan nooit nie...”
Al die gawes wat die Heilige Gees nou aan ons gee sal eendag nie
meer bestaan nie. Dit sal nie meer daar wees nie. Vers 8 sê verder:
“Die gawe om God se boodskap te verkondig, sal verdwyn, die gawe
om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis
sal uitgedien raak.” Hierdie gawes sal eendag nie meer nodig wees nie.
Om God se boodskap aan ongelowige mense te verkondig, of God in
‘n vreemde taal aan te roep, of om kennis na te jaag... dit gaan nie
meer nodig wees nie. Want nou “ken ons maar gedeeltelik, en ons
verkondig God se wil maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige
kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.” – verse 9-10.

Maar, die liefde bly! Die liefde vergaan nooit nie! – vers 8.
Die liefde is die koord wat ons bind aan die ewigheid. Dit beteken:
As ek nou liefhet met die liefde wat die Heilige Gees gee, is ek rééds
besig met dit wat ek in die ewigheid gaan doen. Ek laat, deur die Gees
se werking in my, iets van die ewigheid in die hede aanbreek.
Ons moet besef: Om lief te hê, is die sinvolste aktiwiteit waarmee
enige mens besig kan wees. Dit is waarom alles gaan.

Jesus het dit saamgevat in Matteus 22:37-40: “Jy moet die Here jou God
liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk
staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is
die hele wet en profete saamgevat.”
Jesus beklemtoon dit: Dit is waarom alles gaan. Om God bo alles lief te hê,
en jou naaste lief te hê, soos God dit wil. Lees dit weer en oordink dit onder
leiding van die Heilige Gees:
Om lief te hê, soos God dit wil hê, is die sinvolste aktiwiteit
waarmee énige mens besig kan wees!

Om lief te hê soos God dit wil hê, is die ewigheid, nóú!
Die liefde vergaan nóóit nie!

Ons kan bid: O Gees van God, vul hierdie oomblik in my lewe met die ewigheid,
die liefde, U liefde, U Self.
Neem my saam met U as U gestuurde in hierdie wêreld, om lief te hê...

Ernest