Die agtste artikel van die Twaalf Artikels, ons Geloofsbelydenis,
lui soos volg: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk...”
Ons het so maklik so baie kritiek teen “die kerk”. Ons sê so maklik
“die kerk” dit en “die kerk” dat...
Die belangrike is dat alle gelowiges die kerk van die Here Jesus Christus is.

Die kerk op aarde is die vrug van die handelinge van die Vader, en die Seun,
en die Heilige Gees. Die kerk van die Here is in ons belang.
Die eerste wat ons van die kerk in gedagte moet hou is dat Christus self die
kerk in stand hou. Die kerk se toekoms is in Christus se hande. Jesus sê in
Matteus 16:18 dat Hy sy “kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie
oorweldig nie.”

Ons weet dit lyk nie altyd so nie, dat die kerk in Christus se hande is nie.
Minder as ‘n derde van die wêreld behoort aan ‘n Christelike kerk. Die ware
verlostes, wat nie net in naam kerk is nie, is baie minder. En die getal krimp
in terme van die groei van die wêreld-bevolking. Die geboortesyfer oortref
die wedergeboorte syfer by verre.

Moet ons opgee met die kerk? Moet ons deure toemaak? Nee! Want Jesus
is die hoof van die kerk, en Hy het gesê: “Die magte van die doderyk sal dit
nie oorweldig nie.” Een ding weet ons, by alles wat ons nié weet oor die
toekoms van die kerk nie, en dit is dat Jesus die Here is van sy kerk! En óns,
wat glo en vir Hom leef, is sy kerk. Die kerk is in Jesus se hande. Die kerk is
die plek waar Christus by verloste sondaars is.

Die Here hou uit met sy kerk, en daarom moet ons ook uithou met mekaar
én met onsself. Die kerk is waar die Here by mense soos óns is!
Onvolmaakte mense wat nog op pad is na die volmaakte. Wanneer ons na
die kerk kyk, en oor die kerk praat, moet ons in die spieël van die Woord
van God kyk, hoe élkeen van ons lyk. Jy, ek is die kerk. Elke kind van God
is die kerk. Die kerk lyk soos dit lyk, oor hoe óns lyk...
en hoe óns vir die Here leef.

Daarom bely ons in die geloofsbelydenis: Ek glo aan ‘n kerk.
Dit is ‘n geloofsaak. Daarom oordeel ek nie die kerk (die bruid van Christus)
op haar uiterlike gestalte, of op empiriese gegewens nie. Ek kyk na die kerk
in die geloof! En ons weet: Die Here laat nie die werk van sy hande vaar nie...
– Ps. 138:8 se laaste reël.

Drie houdings is belangrik oor ons, die kerk van die Here:
Eerstens: Die gesindheid van dankbaarheid teenoor die Here van die kerk.
Hy dra ons elke dag. Hy verloor nie moed met ons soos ons moed met
mekaar verloor nie. Hy volbring sy plan met ons, sy kerk.
Daarvoor moet ons die Here loof en prys met dankbaarheid.
Tweedens: Die gesindheid van geduld met medegelowiges. Geduld met mekáár.
Nie een van ons is ‘n engel nie. Ons is almal mense. Verloste sondaars.
Daarom kan nie een van ons “uit die hoogte kyk” na die kerk nie.
Derdens: Die gesindheid van ‘n nuwe ywer om ín die kerk en áán die kerk te werk.
Let op, te werk, te dién... sodat ons ook sigbaar kan word vir wie ons rééds
in Christus ís! Heiliges, en geroepenes, en gestuurdes!... van die Here!

Ons kan bid: Vader, Seun en Heilige Gees, bewaar mý, bewaar óns, U kerk.
Here U kerk is U wonderwerk! Hoe anders kon ek, sondaar-mens,
deel word van U wonderwerk? Ek loof U Here, vir U kerk.

Ernest