God is alomteenwoordig. Maar is Christus en sy kerk is Hy
op ‘n besondere wyse by ons teenwoordig. Jesus het self gesê:
“Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle”
– Matt18:20. Dit is die wonder van die kerk.

Ons is meer as net die somtotaal van indiwidue wat byeen is
of aan ‘n kerk behoort. Christus is teenwoordig! Daarom kan die
kerk enige plek wees. Nie noodwendig in ‘n kerkgebou nie. Ons weet:
In ‘n geloofs-broer of -suster ontmoet ons Christus self.
By die samekoms van gelowiges is die lewende Here self teenwoordig.
Daarom kan ons moed skep by die wete dat die Here self sy kerk in
stand hou.

Hieroor skryf Paulus dankbaar en vertroostend in Filippense 1:6
dat hy daarvan oortuig is dat God, wat die goeie werk in ons begin het,
dit enduit sal voer en sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus
weer kom. Dink terug aan jou eie stukkie geskiedenis, en onthou die
trou van God vir alle gelowiges, sy kerk. Dit is vertroostend.

God bewaar sy kerk ín die wêreld. Hy haal nie die kerk uit die wêreld
weg nie, soos ‘n porselein pop wat beskerm moet word nie. Ons gaan
ook deur krisisse, rampe, siekte, en die konfrontasie met die dood.
Maar... in dit alles bewaar God ons. Jesaja 43:2-3 en vers 5 gee die
bekende belofte: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God...
Moenie bang wees nie, Ek is by jou.”
Ons leef met geloofs-oë. God is by ons!

Ons kan bid: Here, laat my met nuwe oë na my medegelowiges kyk,
en vir U sien. Here, hier is ék. Gaan ook enduit met mý.
Here, ek kyk terug en is getroos, en daarom kyk ek vorentoe,
en skep moed. U is by óns. U is by mý.

Ernest