Ons bely: “…ek glo aan ‘n heilige algemene Christelike kerk…”
Ek glo aan ‘n heilige kerk… Wat beteken dit? Ons sê mos maklik
ons moet ons nie so “hoogheilig hou nie”.

Paulus noem die gelowiges in Korinthe “geroepe heiliges”- 1 Kor. 1:2.
Hy skryf aan die gemeente en sê: “Aan die gemeente van God in Korinthe,
wat in Christus Jesus geheilig is deur God – geroepe heiliges, saam met almal
wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here
en ons Here...” – 2020 vertaling.

Twee dinge is belangrik:
Eerstens: In die oë van God ís ons heilig! Hy kyk na ons deur die bril van Jesus,
sy Seun. Daarom kwalifiseer Paulus die heiligheid as:
geheiligdes in Christus Jesus – 1 Kor. 1:2 soos hierbo aangehaal. Dit is nou reeds
waar van die kerk van die Here! Dit is nou reeds waar van mý. Dit leer my om
met ander oë na myself en na ander gelowiges te kyk.
Tweedens: dit wat reeds “objektief” van my en die kerk waar is, moet nou ook
in my daaglikse lewe van dag tot dag uitgeleef word! Dit beteken:
Alhoewel ons reeds heilig ís, word ons opgeroep tot heiligheid. Die Here sê:
“Wees heilig, want Ek is heilig.” – 1 Pet. 1:16.
Ons leef in ‘n skynbare teenstrydigheid. As onheilige heiliges!
Die onheiligheid moet al kleiner word en die heiligheid al groter.

Heiligmaking is nie net om ‘n klomp dinge by te kry nie, soos meer liefde en
geduld en vergewingsgesindheid... Of dat ons ‘n klomp dinge in ons lewe moet
doen nie, soos meer bid en Bybel lees, kerk toe gaan en barmhartigheid bewys...
Heiligmaking begin nie met hierdie dinge nie. Heiligmaking begin deurdat ek
meer van Jesus in my lewe openbaar omdat Hy my lewe oorneem.
Heiligmaking is nie net introspektief nie. Die punt van heiligmaking is dat ons
juis van onsself af weg moet kyk, na Jesus moet kyk!

In heiligmaking gaan dit allereers oor my verhouding met Jesus! Eers dan sal
sy beeld al hoe meer in my verskyn. 2 Kor. 3:18 beskryf dit só: Ons moet al hoe
meer verander word “om aan die beeld van Christus gelyk te word.”
Jy word só bewus van jou eie sonde dat jy wil wegvlug.
En dan word jy so bewus van genade dat jy na Jesus toe vlug en
sy gestalte in jou gevorm word. Jy vertoon die beeld van Christus!
Word heilig deur weg te kyk van jouself, na Jesus toe!
Weg te leef van jouself, na Jesus toe!

Ons kan bid: Here, heilig my. Here Jesus, U is my heiligheid.
Help my om weg te kyk van myself en net vir U voor oë te hou.
Weg te leef van myself, en net vir U te leef.

Ernest