Die oorspronklike betekenis van kerk is “die wat aan die Here behoort”.
In Fil. 1:1 beskryf Paulus die kerk as mense wat “deur Christus Jesus aan
God behoort.” Dit beteken tog dat Christus ons moet beheer. Dit beteken
verder dat ons aan Hom gehoorsaam moet wees. Ons hoogste lojaliteit
is aan die Here van die kerk. Geen ander persone of sake is belangriker nie.
In al die lewensverbande waarin ons leef moet ons as kerk, as kinders van
die Here, vry voel om te getuig van die Here van die kerk, en dat Hy óns
Verlosser en Here is! Alles op die aarde behoort aan Hom. Oral waar ek
leef is sy terrein. Oral en altyd, in alle omstandighede, bly ons getrou aan
die Here van die kerk. Dit is ons roeping en lewe. Mense moet weet:
Ek verteenwoordig die Here.

Die kerk is “anders” as die wêreld, en dit moet sigbaar wees om ‘n impak
op die wêreld te hê. Die verskil tussen kerk en wêreld kan nie opgehef
word nie.
1 Petrus 2:11 sê dat ons, die kerk, moet altyd soos “vreemdelinge en
bywoners” bly in die wêreld. Ons is in die wêreld, soos suurdeeg, maar
ons is nie van die wêreld nie. Lees gerus Johannes 17:15-16.
Ons ken die bekende beeld: Indien jy aangekla sou word in hierdie wêreld
dat jy ‘n Christen is, sou daar oorgenoeg getuienis wees om jou skuldig te
bevind? Is jy opvallend ‘n kind van God? Is jy ‘n getuie van Jesus Christus
as jou Verlosser en Here? Dra jy die vrug van die Heilige Gees?

Die kerk mag nooit volkome deel van die wêreld wees nie, en die kerk
mag ook nooit onttrek uit die wêreld nie! Daar moet ‘n balans wees
tussen vereenselwiging met die wêreld, omdat ons self ook mense is,
en afstand met die wêreld, omdat ons ook uit die greep van die wêreld
verlos is.
Flip Theron beskryf dit met ‘n mooi beeld: Dit is soos twee boksers wat
met mekaar boks. Soms as hulle moeg is, val hulle mekaar vas en hou
mekaar as’t ware regop. Hulle wissel onderlinge lyfhoue wat nie
uitklophoue is nie, en dikwels nie eers punte tel nie. Die skeidsregter
maak hulle dan uitmekaar sodat hulle verder deurslaggewende houe
kan verwissel. Telkens hoor hulle: Breek... en boks!

Ons val soms teen die wêreld vas, soos moeë boksers. Dit kan sonde
wees wat jou vashou. Dalk wêreldse standaarde en beginsels wat jou
in die lug laat slaan. 1 Kor. 9:26 sê egter ons moet “slaan soos ‘n bokser
wat nie in die lug slaan nie.” Hou op leuen teen die wêreld.
Hou op vry met die wêreld... en “baklei” vir die Here en sy kerk.
Kry weer afstand en slaan uitklophoue vir die Here.

Ons kan bid: Here, ek en alles wat ek het behoort aan U.
Here, gee oorgenoeg getuienis in my lewe dat ek U verteenwoordiger
in hierdie wêreld is. Help my om nie in die lug te slaan nie.

Ernest