Ons bely in ons Geloofsbelydenis dat ons glo die kerk is nie net heilig nie,
maar ook algemeen. Wat bely ons wanneer ons sê die kerk is “algemeen”?
Ons bely daarmee dat daar verskille tussen mense is, maar dat hierdie verskille
nie deurslaggewend in die kerk van die Here is nie.
Dit is ‘n baie belangrike belydenis: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike
Kerk...” Want hoeveel verskille is daar nie tussen mense nie! Maar die kerk van
die Here is algemeen!
Dit beteken nie dat die verskille tussen mense verdwyn nie. Dit beteken wel
dat ons ‘n eenheid het wat al die verskille tussen mense oortref: Ons eenheid
in Christus. Omdat ons almal deur die geloof in Christus één is, moet ons
mekaar soos broers en susters in die Here sien en behandel. Let op hoe stel
Galasiërs 3:28 dit: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry,
man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”
Die dubbelpunt beklemtoon dit juis. Ons éénheid in Christus!

Mense wat ‘n “algemene” kerk bely, oordeel mekaar nie op grond van kultuur,
velkleur, geslag, finansiële posisie of maatskaplike status nie. Waarom dink ons
dat ons iets hierin sou prysgee? Ons ontvang in die Here dan juis alles! Ons het
nou ware broers en susters, en ware “status” in die Here:
Dié van kinders van God! Ons is één met die kerk van alle eeue! Ons bely dat
die kerk oor eeue en kontinente strek. Daarmee bely ons dat ons nie alleen in
hierdie wêreld staan nie, nie alleen stry vir die koninkryk van God nie, en nie
alleen ly vir die Here se Naam nie.

Dit beteken ook dat ons vanuit Christelike identiteit ons indiwidualistiese
denke moet aflê. Ons is nie op ‘n solovlug nie, maar deel van die liggaam van
Christus, die huisgesin van God, familie!
“Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers
van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.” – Ef. 2:19. Dink ook aan
die hele kerkgeskiedenis en die groot skare geloofgetuies rondom ons–Heb.12:1.
Deur die eeue het ons saam vir ons geloof gely. “Dwarsdeur die wêreld moet
julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur” – 1 Pet. 5:9.
Ons gaan saam op die pad vir die Here!

Die algemeenheid van die kerk is ook op die wêreld gerig, om die boodskap
van verlossing in Christus na die hele wêreld te dra. Dit is die hele kerk, wat
die hele evangelie na die hele wêreld neem! Ons is gered om die evangelie
na die wêreld te dra. Elkeen is ‘n gestuurde van die Here na die wêreld toe!
Ons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons sal die
Here se getuies wees in hierdie wêreld tot aan die uithoeke daarvan! –
Hand. 1:8.
Die kerk is nie daar om ons te dien nie, maar óns is almal as gelowiges die
kerk wat in die wêreld gaan dien. Ons bedien in die eerste plek die Woord
van God aan die wêreld omdat die bediening van die versoening aan ons
toevertrou is! – 2 Kor. 5:18.

Ons kan bid: Here, leer my om met nuwe oë na U kerk te kyk, hulle wat
aan U behoort. Here, dankie dat daar baie van ons is, en dankie dat daar
net Een soos U is. Here, hier is ek, stuur my!

Ernest