Ons bely nie net dat die kerk van die Here Jesus Christus “heilig” en
“algemeen” is nie, maar ook dat dit “Christelik” is.
Die vraag is: Kan die ware kerk iets anders as Christelik wees?
Wat bedoel ons dan as ons dit in elk geval bely?

Ten minste drie dinge:
Eerstens: Christus is die hoof van die kerk. Hy het die kerk in die lewe geroep.
Hy het dit deur die eeue heen bewaar. Hy sal dit eendag ten volle verheerlik.
“Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan...”
– Kol. 1:18. Die kerk kan nooit deur die bose wêreld oorwin word nie want
die kerk is in Christus se hand.

Tweedens: Om ‘n “Christelike” kerk te bely beteken dat die inhoud van ons
belydenis Christus die Verlosser is! Petrus het dit reeds bely: “U is die Christus,
die Seun van die lewende God” – Matteus 16:16. Dit is op hierdie belydenis
dat Jesus sy kerk bou – Matteus 16:18. Daarmee staan of val alles.
Hierdie belydenis moet ons met al ons entoesiasme en energie in die wêreld
laat hoor! Dit moet vir die wêreld duidelik, en sigbaar, en hoorbaar wees, dat
ons dit waaragtig glo!
Dit is inderdaad die “krag van God tot redding van elkeen wat glo” – Rom. 1:16.

Derdens: Dit is ‘n belydenis van andersheid. Die kerk van die Here Jesus Christus
is uniek en anders as enige ander liggaam, organisasie of vereniging. Die feit dat
Christus die Hoof van sy liggaam is, en ons sy liggaam is, is Goddelik uniek!
Die kerk is waar ware lewe en vreugde oorborrel! Dit, juis dit maak ons anders
as die wêreld! Hierdie vreugde lê in ons verlossing, hoop, ewige toekoms, roeping,
wedergeboorte, bekering, verheerliking! Die lewende Christus is nie net in ons
midde nie, maar in ons! Christus is anders by ons teenwoordig as by die wêreld.
Hy is verlossend en beskermend by ons!... al die dae tot aan die voleinding van
die wêreld! – Matteus 28:20. Dit is aan hierdie ware blywende vreugde wat die
wêreld behoefte het. Ons het dit!
Laat ons dit deurgee na die wêreld wat daarna smag soos ons daarna gesmag het!

Ons kan bid: Here, stuur my, al is dit die stormsee in. Wees my Hoof, my Herder,
en maak my eg. Laat my borrel van die blydskap wat U gee. Ek het al die rede
daartoe!

Ernest