Ons bely in artikel 9 van die 12 Artikels, ons Geloofsbelydenis: Ek glo aan...
“die gemeenskap van die heiliges.” Dit is ‘n uitbreiding op die vorige artikel
en beklemtoon heiligheid en heiligmaking. Dit is amper om te sê ons kan nie
uitgepraat raak hieroor nie! Tog het hierdie artikel 9 ook sy eie beklemtoning
wat die geloofsbelydenis verryk en verdiep.
Die belangrikste is die feit dat die gemeenskap van die heiliges ánders is as
enige ander gemeenskap. Ons is uniek! Ons is nié deel van hierdie gemeenskap
kragtens ons eie wilsbesluite of voorkeure nie, maar kragtens God se genade!
Dit is baie belangrik om dit te besef! “Hy het ons uit die mag van die duisternis
weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.”
– Kol. 1:13. Menslike gemeenskappe kan ons faal, gemeenskappe soos familie,
vriende, ‘n sportklub of sosiale klub, of watter gemeenskap ookal. Dit kan ons
ontnugter. Maar in die gemeenskap van die heiliges is ons as God se mense
bymekaar, en die belangrikste is, óns is by God! Ons is God se familie.
Indiwidualisme is die kenmerk van veral die Westerse samelewing. Elkeen vir
homself... en na die duiwel met die res. Dit is dikwels die ongeskrewe reël.
Oorlewing van die sterkste. Vra maar vir mense wat buite geloof in Christus is.
Die Bybelse denke oor mense is totaal anders. Augustinus het in navolging van
die Skrif van die kerk as “familiae Dei” gepraat, die familie van God. In hierdie
familie is daar verseker groot verskille en verskeidenheid.
Maar deur alles heen weet ons: Ons hoort bymekaar. Ons is broers en susters.
Deur ons Broer Jesus Christus het ons ‘n Vader. In hierdie familie is daar
stadiums van geloofsgroei. Daar is vaders, moeders, jongelinge, en kinders
in die geloof – 1 Joh. 2:12-14. Maar ons is één. God het ons reeds voor die
skepping uitgekies om heilig en onberispelik voor Hom te wees – Ef. 1:4.
Ons gaan as familie ‘n ewigheid saam deurbring!
Daar is meer as 80 beelde oor die kerk en “gemeenskap van die heiliges”
in die Bybel, beweer sekere navorsers. Dit word treffend omskryf in
verskillende beelde. Die Bybel praat van ons as sout, lig, die gebou van God,
‘n nuwe skepping, die liggaam van Christus, bywoners en vreemdelinge in
hierdie wêreld, die bruid van Christus, en nog vele meer beelde.
Uit die rykdom van al hierdie beelde weet ons veral dit:
Ons het gemeenskap met God en met mekaar, en ons word deur God gebruik
om ware gemeenskap in die wêreld tot stand te bring. Hoe bevoorreg is ons!
Deur ons weerklink die wonderlike evangelie in die wêreld:
God het deur die bloed van sy Seun aan die kruis die vrede herstel, “deur Hom
het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” – Kol. 1:20.
Waarlik!... ons is so opgewonde om deel te wees van die “gemeenskap van
die heiliges!” Want ons is deel van God se versoeningsplan, deel van die herstel
van gemeenskap tussen God en mense wat Hý bewerkstellig tussen Hom en die
gevalle wêreld... Kan daar ‘n groter vreugde wees vir die sin van jou bestaan!?
Ons kan bid: Vader, dankie dat ek deel van U familie is. Dat ék U kind is.
Here Jesus, dankie dat U my Broer is. Dankie dat ek tuis is in U familie,
die huisgesin van God.