In Lukas 1:5-7 lees ons :
“Dit het alles begin by ‘n Joodse priester, Sagaria,
gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was.
Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God:
Hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom.
Hulle het nie kinders gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was,
en hulle albei al oud was.”
By Sagaria leer ons dat om te wag, deel is van jou geloof.
Hy was deel van die volk wat 400 jaar tussen Ou- en Nuwe Testament moes wag,
dat God weer met hulle praat!
Hy moes lank wag, voor dit sy beurt was vir tempeldiens.
Én hy en Elisabet moes wag op ‘n kind!
Om te wag in jou geloof, is eerder die reël as die uitsondering!
Maar die wag is absoluut die moeite werd.
Jy wag op God, en Hy stel jou nie teleur nie.
Sagaria besef dit as hy klein Johannes in sy hande vashou.
Sagaria kon maklik in die tempel oor God se wonders gepraat het,
maar om dit vir jou eie lewe te glo is die toets.
Ons is dikwels so haastig in ons geloof.
God moet dadelik, of so gou as moontlik,
op my gebede of behoeftes reageer.
Ons hou nie van wag nie.
Ons leef met kitskos, kitsbanke, kitskoffie, kitsmelk, kitskoeke….
Nou verwag ons ook kitsgeloof.
Die Russiese komediant, Yakov Smirnoff, het hierdie opmerking gemaak:
“On my first shopping trip in America, I saw powdered milk – just add water.
Powdered orange juice – just add water.
And then I saw baby powder, and I thought to myself,
what a country!”
Ons wil ook net water byvoeg, en siedaar, geloof wat werk!
Kits Christenskap.
Wag op die Here, in die teenwoordigheid van die Here!
Met jou hele lewe.
Ernest