Ons gaan nie alleen op die geloofspad nie. Ons word omring deur
geloofsvennote. Saam deel ons en bely ons een gemeenskaplike hoop!
Die Hebreër brief moedig ons aan: “Laat ons styf vashou aan die hoop
wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.” – Heb. 10:23.
Oor die hoop dat God alles sal doen wat Hy aan die gemeenskap van die
gelowiges, die gemeenskap van die heiliges, beloof, sê die Hebreër skrywer
drie dinge:
Eerstens: Die feit dat ons moet styf vashou aan ons hoop.
“Laat ons dan styf vashou...” Ons kan dit uit ons hande laat glip! Ons kan in
die genade veragter, Jy kan... Dit is nie ‘n vanselfsprekende saak nie.
Hou vas aan die hoop wat jy bely!
Tweedens: Dit is nie slegs enkelinge wat aan die hoop moet vashou nie.
Dit is die geloofsgemeenskap, “ons”. Laat óns... As ons as indiwidue te swak
is om vas te hou, en dié hoop voor oë te hou, is die gemeenskap van die
heiliges daar om ons te dra, te ondersteun. Ons deel dit saam, praat saam,
bely saam, hoop sáám!
Derdens: Daar kom die belofte by - “... want God is getrou: Hy doen wat
Hy beloof.” Ons moet styf vashou met die wete dat God getrou is. Hy doen
wat Hy sê. Uiteindelik hang die vashou aan hoop nie van ons af nie, maar
van God se onwankelbare trou! Omhels die hoop. Hou dit styf vas.
Leef daaruit! En onthou: Al die gelowiges om jou hou dit styf vas, en God
hou óns vas!
Ons dra nie net gemeenskaplike hoop nie, maar ook gemeenskaplike sorg
vir mekaar. “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot
liefde en goeie dade” – Heb. 10:24. Ons is ‘n “sharing and caring community.”
Ons is sensitief vir mekaar se nood, stel belang in mekaar, gee om vir mekaar,
en staan mekaar by. Dit is wie ons moet wees. Ons moet ons hieraan meet.
Ons moet bly groei hierin. Daarom sê bogenoemde vers: “Laat ons na mekaar
omsien en mekaar aanspoor...” Ons wys nie net mekaar se sonde en foute uit
nie. Ons spoor mekaar aan tot liefde en goeie dade! Ons het mekaar nodig
en moet daarom nie selfgerig wees nie.
‘n Lewenstyl van “liefde en goeie werke” kom nie vanself nie. Kom ons vra vir
mekaar: Doen jý goeie werke? Betoon jý liefde? Hoe lyk jou dade? Hoe lyk jou
getuienis? En ék, hoe lyk myne? Kom ons spoor mekaar aan en dra mekaar!
Kom ons sien om na mekaar!
Ons kan bid: Here, ek hou... ek hou vas, aan die hoop, want U hou my vas.
U is getrou! Here, stuur iemand om my aan te spoor op my pad, en stuur my,
om aan te spoor!
Ernest