Die gemeenskap van die heiliges kom saam!
Die Bybel is duidelik daaroor. Ons moenie van die
samekomste van die gemeente wegbly nie!

Dit gaan nie net oor gemeenskaplike sorg en hoop nie.
Dit gaan veral ook oor die belangrikheid van die samekomste
van die gemeente. Ons neig graag na die gemak van virtuele eredienste.
Dit is ‘n wonderlike hulpmiddel en bereik baie lede van die gemeenskap
van die heiliges wat nié kán “kerk toe” gaan nie. Ons moet egter onthou
dat die Here in sy woord sê:
“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos
party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen
te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”
– Heb. 10:25. Hierdie is ‘n baie belangrike opdrag.

Ons kán nié as ‘n gemeenskap van heiliges, as gemeente van die Here,
aan die Bybelse kenmerke van hierdie geloofsgemeenskap voldoen,
as ons nalaat om die samekomste van die gemeente by te woon nie.
Kyk weer na wat die Here van ons vra – in die vorige paar dae se
boodskappe. Dit is wat die Here wil hê. Doen God se wil. Punt.
Let op:
Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie.
Dit is (al hoe meer) party se gewoonte.
Ons moet mekaar aanmoedig om daarheen te gaan.
En dit word net meer en meer nóg belangriker, des te meer,
sê die teksvers, namate ons die oordeelsdag sien nader kom.

God is elke keer daar, en verwag ons... vir ‘n ontmoeting met Hom,
as enkel gelowige, en as gemeenskap van die heiliges.
Dit is God-óns-én-ék! En dit is God se wil!

Die belangrikste is dat God ons daar op ‘n unieke en besondere wyse
wil ontmoet en seën. Dat ons Hom daar op ‘n unieke wyse aanbid en
dien. Elke sekonde van stilte is daar net so belangrik as elke woord en
elke noot. Dink net weer... in God se teenwoordigheid,
soos Hý dit wil hê ten opsigte van die gemeenskap van die heiliges.
Doen wat God se wil is. Moenie wegbly nie. Sien en ervaar in elke
moment die Een agter alles raak. God is daar, met ons. God met ons.
Die Here sê: “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af
wegbly...nie...” Punt.

Wat wil jy nou bid...? En ek... wat wil ek uit my hart uit bid? Bid dit...

Ernest