OM HEILIG TE LEEF
Ons bely dat ons saam leef in die gemeenskap van heiliges.
Wat word bedoel met heiliges? Ons leef in ‘n vertikale en
horisontale dimensie. Dit wil sê vertikaal in toewyding aan God,
en horisontaal in toewyding aan ons medemens. Ons moet heilig leef
voor die aangesig van God, en ons moet heilig toegewy aan God leef,
voor en tussen mense.
Jakobus definieer “egte en suiwer godsdiens voor God die Vader”.
Hy sê so ‘n godsdiens beteken twee dinge: Om “weeskinders en weduwees
in hulle moeilike omstandighede by te staan – dit is die horisontale dimensie.
En in die tweede plek: Om jou “skoon te hou van die besmetting van die wêreld”
– dit is die vertikale dimensie – Jak. 1:27.
Dit is diensbaarheid in die wêreld en heiligheid voor God. Dit is egte godsdiens.
Die twee dimensies kan nie geskei word nie. Jy kan nie net heilig voor God leef
en nie jou medemens dien met die liefde van die Here nie. Jy kan ook nie nét
mense dien, en nie toegewy aan, en heilig voor God leef nie.
“Heiligmaking” is iets wat baie mense najaag terwyl hulle dink dit is ‘n menslike
“prestasie”. Dit is deurgaans God én mens, met God eerste. Ons najaag van
heiligmaking rus geheel en al in die genadedaad van God in Christus.
Omdat Jesus Christus gesterf en opgestaan het, kan ons, mag ons, móét ons
heilig wees. Heilig leef. Paulus beklemtoon dit wanneer hy ‘n beroep op
medegelowiges doen om “op grond van die groot ontferming van God” hulleself
as lewende en heilige offers aan God te gee – Rom. 12:1.
Hulle móét dit doen, maar hulle kán dit net doen op grond van wat God rééds
gedoen hét. Gee jouself volkome aan God op grond van sy groot ontferming
oor jou!
Heiligmaking begin by wat God in Christus vir ons gedoen het.
Laat ons daarom die wedloop van die geloofslewe met volharding hardloop,
die oog gevestig op Jesus, die Begin én Voleinder van ons geloof – Heb. 12:1-2.
Kyk weg van jouself, na Jesus! Jy sal vind dat jy nie anders kan nie, en nie anders
wil nie, as om Hom alleen na te volg...!
Ons kan bid: Here, suiwer my om my aan U te wy. Laat my dan, deur U,
ander dien. Dankie dat U die offer aan God gebring het, sodat ek myself
aan U kan offer. Hou my oog gevestig op U, en heilig my.
Ernest