1 Petrus 1:15-16 klink menslik gesproke na ‘n onmoontlike opdrag:
“Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele
lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe:
“Wees heilig want Ek is heilig”. Wie is hiertoe in staat?! Wie kan tog
heilig wees soos wat God heilig is? Wie kan “in sy heiligheid deel”,
soos Heb. 12:10 sê? En tog staan dit daar, swart op wit. Dit staan nié
daar om ons moedeloos te laat nie. Dit is nie om ons kop telkens teen
‘n onbereikbare ideaal te stamp nie. Die bedoeling is eerder dat dit
ons moet terugwerp op God se genade! In Hom is ons heilig.
Dit laat ons telkens teruggryp na God se genade. Want as God dit
nie in ons en vir ons doen nie, is ons pogings tevergeefs.
Hy self laat ons heiligheid gestalte aanneem.

‘n Gebed wat jou hierin mateloos troos is die van die kerkvader
Augustinus wat bid: “Vader, gee vir my wat U van my vra,
en vra dan net wat U wil...”
Dink daaroor na, en bid dit, en leef dit soos God vra,
in ons Vader se liefdevolle genade en in sy Naam.

Wanneer ons oor heiligmaking nadink, kan ons maklik in een van twee
uiterstes verval. Jy kan aan die een kant reken dat jy so heilig word, dat
jy trots raak in jouself daarin – perfeksionisme moontlik... Of jy kan aan
die ander kant reken dat jy, omdat jy sondaar bly, nié die heiligmaking
te ernstig moet opneem nie. Dat jy nie sóveel erns met die sonde moet
maak nie... dit is immers nou nie “doodsonde” wat jy pleeg nie. Al twee
uiterstes is natuurlik verkeerd.

1 Johannes 2:1 help ons regtig baie hierin: “As ons beweer dat ons nie
gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.
En ás een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons
voorspraak by die Vader.” Moenie sondig nie. En as julle sondig...
weet dan dat julle ‘n Voorspraak het.

Dit is dan nie ‘n lewe van neerlaag na neerlaag nie, maar oorwinning na
oorwinning! En as ons ‘n neerlaag ly, staan ons in God se genade, deur ons
Voorspraak op uit die stof. Dit is wat heiligmaking is: Om altyd vir Jesus as
voorspraak te hê... Ons is in Hom uitgekies en afgesonder deur God Self,
om aan Hom toegewy te leef!

Ons kan bid: Here, ek is nie self tot heiligheid in staat nie. Heilig U my.
Vader, gee vir my wat U van my vra, en vra dan net wat U wil...

Ernest