God lê totale beslag op ons lewe. God roep ons op tot onverdeelde trou
aan Hom – Eks. 20:5. Ek moet my hele lewe aan God toevertrou. Dit is
heeltemal of niks. Jy moet glad nie in die sonde wil bly nie, al word jy nie
sondeloos nie. Ons, die gemeenskap van die heiliges, is mense wat,
hoewel hulle weet dat hulle steeds sondig is, hierdie sonde daagliks en
absoluut wil aflê! Wanneer jy jouself aan God toewy is dit in onverdeelde
trou. Jy sê nie: “Here, ek wil so half en half heilig wees” nie!

Die gemeenskap van die heiliges, die kerk, ons, moet sensitief bly vir die
hoë roeping van die Here. Ons moet sê: Hier staan ek. Ek kan nie anders nie!
Paulus lê hierdie verband tussen onderskeidingsvermoë en die heiligheid van
die gemeenskap van gelowiges wanneer hy vir die gemeente in Filippense bid
dat hulle sal toeneem in “begrip en fyn aanvoeling”, sodat hulle “die dinge sal
onderskei waarop dit werklik aankom.” Dan sal hulle op die dag wanneer
Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal
hulle geheel en al in die regte verhouding met God wees,
tot sy lof en eer – Fil. 1:9-11.

Ons weet hoeveel druk daar op ons as gelowiges is om maar toe te gee aan
die norme van die samelewing en die wêreld. Wees versigtig. Leef toegewy
aan God. Gee onverdeelde trou aan Hom alleen! Leef lojaal teenoor die
gemeenskap van die heiliges. Ons. Die huisgesin van God.

Ons kan bid: Here, hier is ek, geheel en al.
Help my om aan U toegewy en heilig te lewe.

Ernest