“Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe,
sal ook vervolg word” – 2 Tim. 3:12. Dit is nie lekker om te hoor
dat die gemeenskap van die heiliges, ons, vervolging te wagte kan
wees nie. Moontlik nie vervolging in die letterlike sin van die woord nie.
Die wêreld sal egter altyd vyandig teenoor die gemeenskap van die heiliges
wees. Hoekom? Omdat die wêreld altyd vyandig teenoor Christus sal wees.
Vandag nog wil die wêreld nie vir Christus hê nie, en sal hulle Hom weer
kruisig. Daarom waarsku Johannes ons:
“Moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie.” – 1 Joh. 3:13.

Ons moenie verbaas wees nie, maar dit eerder verwag dat ongelowiges
ons by tye sal spot en met minagting sal behandel. Al wanneer dit nie met
jou sal gebeur nie, is wanneer jy ‘n skyn gelowige is. ‘n Skynheilige “gelowige”.
Maar wanneer jy uitkenbaar anders as die wêreld leef, as verteenwoordiger
van Christus die Here by mense leef, kan jy teenstand van die wêreld verwag!

Natuurlik moet gelowiges nie konfrontasie soek nie. Veral nie in die lig van
bogenoemde Skrif-gedeeltes nie. Ons moet egter weet dit is soos Luther
gesê het: As Christus ‘n kroon van dorings gedra het, moenie dink die wêreld
gaan aan jou ‘n kroon van rose gee nie.

Die gemeenskap van gelowiges is wel ‘n gemeenskap van lyding, maar ook
van lof! Al ly ons vir die Here in hierdie wêreld, bind dit ons saam in hierdie
wêreld. Ons word so vir die wêreld ‘n teken van ware eenheid in Hom,
in Wie ons glo. “’n Demonstrasie van ware eensgesindheid – volgens Fil. 4:2
en 1 Pet. 3:8. Aan die soort eensgesindheid het die wêreld behoefte.
Dit kan klowe van haat oorbrug. Die gemeenskap van die heiliges is hulle
deur wie die Here die wêreld wil bereik.
Aan ons is die bediening van die versoening toevertrou.

Ons moet aan die wêreld wys dat daar alleen in God vreugde en vrede
te vind is. Ons moet dit so uitleef dat hulle dit sien. Ons moet met lof en
vreugde leef. Ons moet ‘n lofprysende gemeenskap van heiliges wees.

Die kategismus van Westminster, ‘n belydenisskrif, vra:
“Wat is die hoogste en vernaamste doel van die mens?” Dan antwoord dit:
“Om God te verheerlik en Hom volmaak tot in ewigheid te geniet.”
Geniet jy vir God? Is jou lewe in gemeenskap met Hom en medegelowiges
‘n vreugde, en geniet jy dit om kind van God te wees!?
Gaan na die gemeenskap van die heiliges, én na die wêreld toe,
met dié voorneme: “Here, ek wil U loof!” – Ps. 139:14.
So beantwoord ons lyding ter wille van die Here, met lof aan die Here!

Ernest