In die tiende artikel van die 12 Artikels, ons Geloofsbelydenis,
bely ons in geloof: Ek glo aan “die vergewing van sondes.”
In hierdie belydenis is twee dimensies van vergifnis betrokke:
“’n vertikale dimensie en ‘n horisontale dimensie. Die vertikale dimensie
wil bely dat ons deur God vergewe is. Die horisontale wil bely dat ons
ook ander mense moet vergewe. In die Bybel is hierdie twee dimensies
onlosmaaklik van mekaar. Dink aan Jesus se uitspraak in Matteus 6:14
en 15: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse
Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie,
sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Hierdie is baie belangrike woorde in terme van vergifnis.

Maar let nou op: Jesus sê nié hiermee dat die feit van óns vergifnis
van ander mense die voorwaarde is op grond waarvan God ons (moet)
vergewe nie. Dit spel eerder die logiese konsekwensie uit van ons vergifnis
deur die Vader. Die Duitse teoloog Schabert sê onder andere hieroor:
“Wie vergewe is, vergeef ander, en wie ander vergewe, word vergewe.”
Dit is soos mense wat op pad is: hulle kom iewers vandaan en gaan iewers
heen. Dus: wie ander vergewe, kom altyd iewers vandaan – vanuit die
vergifnis van God; maar is ook altyd iewers heen op pad – om ander te
vergewe. Dat ons die voorneme het om ander te vergewe, en dit doen,
is ‘n bewys van God se genade in ons lewe. Wanneer ons God se vergifnis
gesmaak het, kan ons nie anders nie as om ander te wil vergewe.
En ons doen dit!

Ons is groot sondaars. Maar ons het ‘n groot Verlosser! Ons sonde is
‘n bodemlose put. Maar die liefde en vergifnis van God is groter, dieper!
Vergifnis in Christus is groter as sonde! God se vergifnis het nie grense nie.
Psalm 103:8-12 beklemtoon dit: “Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir
ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand
tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.
So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge
van ons af...” Wat ‘n gróót Verlosser! Vir gróót sondaars! Soos ék.

Ons kan bid: Here, hanteer my nie op grond van my gedrag nie,
maar op grond van U genade. Help my om ook, uit U genade, te vergewe.

Ernest