Ons is traag om ons skuld te bely. Die belangrike is:
Om werklik uit die vergifnis te kan leef, moet ‘n mens eers ontdek
dat jy vergifnis broodnodig het. Jy moet intens besef en bely dat jy
‘n sondaar is met skuld wat weggeneem moet word... om te kan lewe!
Dit is menslik moeilik vir ons. Ons wil van nature onsself verontskuldig.
Asof ons onsself uit ‘n doodloopstraat kan praat... Ons is óf moedswillig,
óf verstaan nie met watter lewensgevaar ons besig is nie.
1 Joh. 1:8 stel dit sterk: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie,
bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” Ons moet
deurlopend deur die genade van God en onder leiding van die Heilige
Gees eerlik na onsself kyk. Ons lewens-nóódsaak aan die vergifnis van
ons skuld. Ons moet doelbewus ons skuld voor God bely. Ons moet nie
vaag praat en bely nie. Ons moet dit opreg doen met die doel om
daarmee te breek.
Die blye boodskap van skuld vergifnis sê dat God ons uiters ernstig opneem.
Veral ons sonde. Karl Barth sê dat God ons sonde só ernstig opgeneem het
dat dit die dood van sy geliefde Seun gekos het! Hy sê verder; nou dat Hy
dít gedoen het... het Hy in Christus ons skuld afgeskryf! Dit is eens en vir
altyd afgehandel! – Heb. 7:27 en 10:2. Dit is verby! God grawe nie ou koeie
uit die sloot nie.
Die belangrike is nou: Dink ons steeds aan sonde wat rééds vergewe is?
Sonde wat opreg bely is, en deur God vergewe is! Bly jy tob oor skuld van
die verlede? Ons moet nie terugkrabbel na wat was nie. Ons moet God op
sy woord neem dat Hy vergewe! Ons moet die wonder van die evangelie
verstaan! Die blye boodskap van vergifnis en genade moet tot ons deurdring.
Jesus het so swaar aan ons sondelas aan die kruis gedra,
dat Hy in Godverlatenheid uitgeroep het... en sy laaste asem uitgeblaas het.
Daarom kan jy asem skep... en lééf!
Ons kan bid: Here, help my om my eiegeregtigheid eens en vir altyd te
ruil vir U genade. Skenk my die genade om my sondelas by die kruis te los.
Help my om te vergewe en ander te help dra aan hulle las.
Dankie dat ek kan lééf... in die lewens-siklus van U vryspraak,
en vergifnis, en vrede.
Ernest