Daar is min dinge wat jou so in die grond kan druk as skuldgevoelens.
Wat jy verkeerd gedoen het, of dat jy nagelaat het om goed te doen.
En hoe meer jy daaroor tob, hoe swaarder word die las. Dit voel later
dat jy nooit weer uit dié put sal kom nie.
Ons bely in ons geloofsbelydenis: Ek glo aan die vergewing van sondes!
Ons doen dit op grond van wat God in sy Woord sê! Waarom laat ons
toe dat skuldgevoelens ons bly druk, in die grond in... ?
Petrus getuig eerstehands van skuldgevoelens en hoe hy geworstel het
daarmee. Hy het immers vir Jesus in die openbaar by die vuur verloën
– Luk. 22:54-62. Hoe swaar moes sy skuldgevoelens nie gewees het nie.
Hy was in die binnekring van Jesus se dissipels. En tog hoor Hy later uit
die mond van Jesus: Laat my skape wei – Joh. 21:17. Hy kry ‘n opdrag
wat net een ding kan beteken: Hy is in sy roeping herstel. Hy is vergewe.
Martin Luther het diep onder die indruk van hierdie vergifnis gekom en
dit so verwoord: “So dikwels soos jy die sonde voel, so dikwels kan jy óók
die vergifnis van sonde voel. Vergifnis is nie ‘n wolk wat verbytrek nie;
dit is ‘n ewige hemel oor ons!”
Ons is almal bewus van die swaar las van skuldgevoelens. Maar ons kan
tegelyk die wonderlike genade van God voel in sy vergifnis! Die waarheid,
die feit daarvan! Vergifnis van sonde! God het dit beloof en dit in Jesus vir
ons gegee. Dié geskenk van vergifnis is so ruim en wyd, so vas en seker,
soos die ewige hemel bo ons. Wanneer jy die las van skuldgevoelens dra,
kyk na die wolke! Kyk dieper, verby die wolke na die hemel, en weet:
God wat in die hemel woon vergewe jou!
“Ek glo aan die vergewing van sondes...” Bely dit omdat jy dit glo!
Martin Luther, die groot kerkhervormer, het by geleentheid swaar gekry
onder buie van neerslagtigheid en dit ervaar as “tye van aanvegtinge”,
soos hy dit genoem het. Een insident wat sy teologie en lewens-instelling
duidelik geïllustreer het, was die antwoord wat hy die duiwel gegee het
toe dié hom bly aankla het ten opsigte van sy sondes. “Dit is waar,
dit is alles my sondes”, het hy hárd vir die duiwel gesê, “en daar is veel
meer! Maar bo-oor dit alles kan jy neerskryf: “Die bloed van Jesus, die Seun,
reinig ons van élke sonde!” – 1 Joh. 1:7.
Dit is waar! Dit is presies so: Reinig ons van letterlik elke sonde! God het dit
gedoen! Ons kan met die duiwel saamstem oor al ons sonde...
want daarmee haal ons die angel uit sy aanklagte. Maar dan hou ons verseker
vas aan die verlossing van al ons sonde!...
in Christus Jesus ons Verlosser en Here!
Ons kan bid: Here, vergewe my dat ek so klein dink oor U vergifnis wat
so groot is. Here, help my om uit U oorwinning te leef. U het klaar oorwin!
Ernest