Voor God is ons skuldig. Ons breek eenvoudig op ‘n daaglikse basis sy wet,
sy wil van liefde tot Hom bo alles, en liefde teenoor ons naaste.
Maar wat doen God? “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet
gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem” –
Kol. 2:14. God het ‘n nuwe blaai met ons omgeslaan. Hy begin van voor af
met ons. ‘n Christen is nie beter as ander mense nie. Maar die verskil is:
Christene kan elke dag nuut begin! Ons kan deur die genade van die Here
en sy vergifnis weer oor begin.

Die mees sinlose aksie wat ons nou kan uitvoer, is om telkens weer terug
te blaai, om te kyk, terug te val in die verlede. Nee. God begin nuut met
ons in Christus en skryf in Hom ons lewe oor. Ons raak nou so vol van Hom
dat ander in ons sy heerlikheid kan lees. Ons word briewe van Christus
– 2 Kor. 3:3. Die feit dat God ons vergewe, openbaar aan ons sy diepste
wese. Sy onbegryplike liefde vir ons en sy geduld met ons.
Hieroor leef ons in verwondering voor Hom!

Die profeet Miga skryf aangrypend oor hierdie verwondering voor God,
oor sy genade om ons sonde af te skryf: “Wie is ‘n God soos U?
U vergewe sonde. U straf nie die sonde van die wat uit U volk oorgebly
het nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde
tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi...” – Miga 7:18-19.

God het in Christus jou sonde “in die diepsee gegooi”. Ons moet nié dit
weer gaan “uit-duik” nie! Dit is afgehandel. Begrawe in die diepsee!
God het dit laat wegsink in die vergetelheid, deur sy genade!

Ons kan bid: Here, dankie dat U die outeur is van my splinternuwe
lewensverhaal. Help my om nie my ou sondes uit die diepsee op te diep nie.
Verhef my uit die dieptes, na die hemel van U vergifnis.

Ernest