Ons moet nie die boodskap van vergifnis stroop van die oproep
tot verandering nie. Wanneer ons dit doen maak ons die evangelie goedkoop.
Genade is nie goedkoop nie. Genade is baie duur. Jesus het aan die kruis die
duurste prys betaal vir genade. Die evangelie is duur. Mense wat werklik
begryp wat God alles in Christus vir ons gedoen het, wil alles vir God
in Christus doen! Lees dit weer...
Die boodskap van vergifnis maak ons vry... maar nie ongekwalifiseerd nie.
Dit maak ons vry vir God!

Laat ons Paulus hieroor hoor om dit beter te verstaan: “Moenie julleself
mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy
ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige
natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai,
sal van die Gees die ewige lewe oes” – Gal.6:7-8. Werklik:
Vergifnis is verniet, maar dit is nie goedkoop nie!
Dit het God die duurste prys gekos... sy Seun aan die kruis.

Die boodskap van vergifnis is ongelooflik groot. Maar ons kan dit verklein
en verskraal. Dietrich Bonhoeffer, ‘n Duitse teoloog, het dit so gestel in sy
aangrypende boek “Nachfolge” – navolging : “Goedkoop genade is prediking
van die vergifnis sonder verootmoediging; doop sonder die tug; nagmaal
sonder belydenis van sonde... Goedkoop genade is genade sonder navolging,
genade sonder die kruis, genade sonder die lewende, mensgeworde,
Jesus Christus...”

Hierdie soort genade is gewild in die wêreld, maar dit is nie die genade
van God nie. Bonhoeffer sê hieroor: “Baie Christene is soos bloedhonde.
Hulle ruik en snuffel en soek... na ‘n kerk en ‘n godsdiens waar die goedkoopste
genade te kry is – wat nie die duur prys van dissipelskap van hulle vra nie...”
Die Goddelike genade van die evangelie is anders. Dit is duur. Dit roep op tot
verandering, vernuwing, toewyding, dissipelskap.
“Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan...” – 1 Kor. 6:20 – 2020 vertaling.
God se vergifnis verander jou, vernuwe jou. Jy leef die nuwe lewe! Vandag.

Ons kan bid: Here, U duur genade het my vrygekoop. Die prys is betaal.
Daarom wil ek U verheerlik met my lewe.

Ernest