In die Ons Vader gebed bid ons: “... en vergeef ons ons oortredings,
soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree...” – Matteus 6:12.
Hierdie vyfde bede van die Ons Vader gebed kan, soos met al die
ander bedes in dié gebed, nie net deur enkelinge gebid word nie.

Die woord “ons” word soveel as vier keer herhaal. Met hierdie gebed
bring ons ons eie oortredinge na God toe, maar óók die oortredinge
van hulle rondom ons... ons gesinne, vriende, kerke, regerings, en
uiteindelik die ganse mensdom wat voor God moet gaan staan,
sáám met óns! Saam met mý.
Dit is soos ‘n klip wat in ‘n dam gegooi word en ons sien die
rimpeleffek op die water. Dit kring net wyer en wyer.

“Vergeef ons ons oortredinge...” is in sekere sin ‘n universele gebed.
Hierdie gebed, wat Jesus ons leer om te bid, leer ons die taal van
skuld-verbondenheid. Wat word bedoel met skuld-verbondenheid?
In die boek van Dostojevski, “Die Broers Karamazov”, sê die sterwende
seun Markell aan sy moeder:
“Elkeen van ons is voor almal in alles skuldig, en ek, ja, ék, meer as almal.”
Dit is skuld-verbondenheid. Met hierdie taal van “korporatiewe” skuld
word die bose kringloop van wedersydse verwyte en beskuldigings
deurbreek! Met hierdie taal word bely:
Ons is die outeurs van ons eie skuld. Hiermee erken ons:
Daar is ‘n net van skuld wat oor ons almal gesprei is...

Steek vandag die hand in eie boesem. Hou op dink en praat asof net
die ander skuld dra, in jou huwelik, gesin, familie, vriendekring, kerk,
land en die wêreld. Jesus moes vir hierdie “korporatiewe skuld” betaal.
Jou skuld is deel daarvan. En myne. Ons sin. Ons moet saam met die
Ons Vader gebed bely en pleit “... vergeef ons...”
Jesus het gesê: Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se
oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” – Matteus 7:3.
Adam en Eva het daarmee begin. Adam sê dis Eva, en Eva sê dis die slang.
Dit is óns skuld. Laat die Here die balk uit jou oog haal, uit ons oog haal,
en laat die Here die splinter uit die oog van die ander haal...

Ons kan bid: Here, vergeef ons ons oortredings,
soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.

Ernest