Christus deurbreek nié nét die bose kringloop waarin die groot aanklaer,
die Bose, mense by God en mekaar aankla nie. Hy kom skep ‘n núwe
kringloop van vergifnis. Hy is nie die groot Aanklaer nie, maar die Verlosser
en Vryspreker wat ‘n proses van vergifnis aan die gang sit! Ons hoor iets
daarvan in die bede in die Ons Vader gebed:
“...vergeef ons... soos ons vergewe...” - Matteus 6:12.

Helmut Thielicke, die teoloog, sê dat die vergifnis soos ‘n afloswedloop is.
Soos die aflos-stokkie moet dit aangegee word, deurgegee word. Wie die
reël in ‘n wedloop verbreek word gediskwalifiseer. Dit verbreek die
kringloop op die baan. So moet die vergifnis wat ons van Christus ontvang
as ‘n voortgaande kringloop van vergifnis behou word.
Wat ons van Christus ontvang moet ons deurgee...
“vergeef ons soos ons vergewe”.

As ek nie vergewe, en vergifnis “aangee” nie, sal die hemelse
Vader my ook nie my oortredinge vergewe nie – Matteus 6:14-16.
En daarmee verval ek terug in die kringloop van die Bose waar die Bose
heers. Ek val dan terug in skuldontkenning, haat, wraak, en die dood...
Die aflosstok van vergifnis is in jóú hand. God het dit in Christus se
vryspraak in jou hand geplaas. Hardloop daarmee en gee dit aan!

Die gebed om vergifnis van sonde in Matteus 6:12 staan lynreg teenoor
vergelding. Ons vra God om eerstens óns te vergewe, sodat ons húlle ook
kan vergewe. Ons gee nie wraak en vergelding verder aan nie. Ons hou op
met die moordende kyke, of woorde, of dade van vergelding. Ons hou op
praat in ‘n toon van vergelding. Want die aflosstok van vergifnis is
Christus self! Ons “gee Christus aan”.
Soos Luther gesê het: “Christene is ‘n Christus vir ander”.
Daarmee gee ons ook onsself vir Christus en vir ander.

Die stryd om vergifnis bly iets wat teen ons grein en ego as mens ingaan.
Want, selfs wanneer ons uit óns-sélf hoe hard ookal probeer, word ons
nie engele nie. Daarom kan ons dit nét in Christus waarlik regkry.
Die wonder van vergifnis lê in Christus. Christus het “eens en vir altyd”,
volgens Heb. 7:27, die offer gebring wat nodig was vir skuldvergifnis by God,
en die vergewing van mekaar. Dat ons dit kan doen is die wonder van die
genade van vergifnis in ons eie lewe.

Ons kan bid: Here, U het vergifnis aan my gegee. Help my om dit aan te gee.
Dankie dat U saam hardloop in die wedloop van die lewe!
Dankie dat U vergewe.

Ernest