Ons bely gereeld in die kerk een van ons Algemene Geloofsbelydenisse.
Dit is die Apostoliese Geloofsbelydenis, wat ook bekend staan as die
Twaalf Artikels. In Artikel elf van hierdie twaalf artikels bely ons:
“Ek glo aan die opstanding van die vlees...” Wat beteken “die opstanding
van die vlees?” Om dit te bely sê dat ons werklik glo ons sal eendag
liggaamlik opstaan. Die belydenis oor die opstanding van die vlees is
in ‘n sekere sin ook die samevatting van die Christelike geloof en ‘n
kernagtige verwoording van ons hoop! Alles wat ons glo, staan of val
met hierdie belydenis oor die opstanding van die gelowiges!
Dit is ons redding deur God, in Christus in ewige heerlikheid.
Die opstanding van die vlees, ons opstanding, is alleen moontlik omdat
Jesus Christus uit die dood opgestaan het. Die een kan nie van die ander
losgemaak word nie. 1 Kor. 15:12-13: “As ons dan verkondig dat Christus
uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar
geen opstanding van die dooies is nie? As daar geen opstanding van die
dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie.” Maar nou,
Christus is opgewek! Daarom sal óns opgewek word! dit is die evangelie!
Sonder Jesus se opstanding sou die hoop op ons opstanding ‘n illusie wees.
Maar nou, let op: “Maar nou, Christus ís opgewek uit die dood,
as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur ‘n mens
gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ‘n mens gekom.
Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in
Christus lewend gemaak word.” – 1 Kor. 15:20-22. Lees dit gerus weer.
Dikwels wil ons in moedeloosheid terugval. Val met jou lewe in agter
Jesus as sy volgeling. Volg Hom na met die wete: dit is ook deur die dood
en in die opstanding van die vlees! Bly op Jesus se spoor, en bly in geloof
in sy reddingsdade. Ervaar die opstandingskrag nou reeds in jou lewe!
Nou! En op die opstandingsdag!
Ons kan bid: Jesus, U gaan voor, ek volg in U spoor.
Kom en vat my hand, na die Vader-land.
Ernest