“Petrus sê daarop vir Jesus:
“Leermeester, dit is wonderlik om hier te wees!
Kom ons bou drie skuilings:
Vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”
Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie,
want hulle het groot geskrik.” Markus 9:5-6.
Vrees laat Petrus hierdie sinnelose voorstel maak.
Maar kom ons klim in Petrus se skoene,
hier by Jesus se verheerliking op die berg.
Petrus.
‘n Eenvoudige visserman.
Omtrent elke keer as hy sy mond oopmaak, sê hy iets verkeerd.
Wanneer hy een keer iets reg sê,
“U is die Messias”, word hy beveel om daaroor stil te bly.
Nou wil hy, in plaas van iets te sê, eerder iets doen met sy hande.
Maar ook dit ontplof in sy gesig…
Waarskynlik kon Petrus die stilte nie hanteer nie.
Veral nie hierdie spesifieke stilte nie.
Soos Petrus, weet ons baie keer nie wat om te sê nie.
Ons hoef nie elke keer, in alle omstandighede, as gelowiges iets te sê nie.
Ons kan dikwels net in stilte wag dat die Gees ons lei.
Of net wag op God, om die stilte te vul soos Hy wil.
Moenie ‘n vrees hê vir stiltes nie.
Ontdek God in die stiltes.
As jy nie weet wat om te sê nie, soos Petrus,
“Let go, and let God.”
Ernest