Die wyse waarop jy uit die graf gaan opstaan, word hoegenaamd nie
bepaal deur hoe jy, aards-gesproke, in die graf ingaan nie. Die wyse
van jou opstanding uit die dood word slegs bepaal deur jou verhouding
met Jesus Christus. Hulle kan alles saam met jou begrawe wat jy het,
en wie jy was, hoe belangrik ookal. Niks daarvan “tel” nie.

Net “in Christus”... sal tel. Of jy sterf in Christus. Al is jy hoe gering en
swak vanuit die oogpunt van die wêreld.
In Christus sal jy met heerlikheid opgewek word! 1 Kor. 15:43:
“... wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek”.
Aardse goud en skatte verloor hulle glans geheel en al
in die lig van die opstandings-heerlikheid.

Wat is die waarde van ‘n mens? Die wêreld sal maklik sê:
Eintlik nie veel nie. Vandag is jy hier, môre is jy weg. Hoeveel mense
sterf nie daagliks landwyd en wêreldwyd nie! Dooies word gou
vergeet.
Net ware geliefdes leef in ons herinneringe.
Die dood is tog maar deel van die lewe...

Die evangelie, en by name hierdie deel van ons geloofsbelydenis,
weerspreek so ‘n uitsiglose lewensgevoel of siening. Ons glo aan
“die opstanding van die vlees”! Hierdie belydenis dat ons glo aan
die opstanding van die liggaam, sê onder meer dat ‘n mens,
elke mens, vir God waarde het! Ons het vir Hom soveel waarde
dat Hy ons nie na ons dood in die graf los nie. Hy wek ons op!
1 Tessalonisense 4:13-14 sê “dat Jesus gesterwe maar ook
opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die
ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.”

Die “opstanding van die vlees” beteken dat ons liggaam waarde
vir God het! Hy is immers die Skepper daarvan en ons is die kroon
van sy skepping. God sien my as méns aan, geskep na sy beeld.
Daarom hoef ons ook nie bang te wees vir die wat die liggaam
doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie.

Die wonderlike is dat almal wat in Christus glo as Verlosser en Here,
en vir Hom leef, sal in dieselfde heerlikheid opgewek word.
2 Tessalonisense 1:10: “Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom
om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te
ontvang van almal wat glo.” Dit gaan dus nie in die eerste plek om
óns heerlikheid nie, maar veral om sy eer en verheerliking op die
opstandingsdag. Lééf nou saam met Hom, en ewig saam met Hom!

Ons kan bid: Dankie Here dat ek aan U behoort.
U waardasie is my waarde. U het my duur gekoop met U bloed.

Ernest