“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”
– Hebreërs 13:8.

Niks in die lewe bly vir altyd dieselfde nie. Alles is voortdurend
aan die verander. Geslagte kom en gaan. Mense se gesindhede
en persepsies verander. Oortuigings word gevorm en weer omvorm.
Verandering is deel van menswees. Verandering is ook nie noodwendig
verkeerd nie. Verandering is dikwels juis nodig. Maar verandering bring
ook dikwels onsekerheid mee. Ons is van so baie dinge regtig onseker.
Ons is dalk van meer dinge onseker as waarvan ons seker is.
Geen aardse dinge het ewigheidswaarde nie.
Alles kan handomkeer verander.

Net God verander nie!
Hy is die Skepper van die skepping wat deurgaans verander,
maar Hy verander nie. Lees gerus Jakobus 1:17. Die hemelliggame,
die heelal mag verander of verduister, maar God bly dieselfde.
Ons weet dit veral uit bogenoemde Hebreërs 13:8:
Jesus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Dit is die moeite werd om dit vir jouself te herhaal en daaruit te leef!
Sy versoeningswerk vir ons staan vas. Sy beloftes is seker! In Hom sal
ons opstaan uit die graf. Daarom kan ons met soveel oortuiging ons
geloof bely: Ek glo in die opstanding van die vlees!
Die ewige vernuwing en verandering sal plaasvind!
Dit is die heel beste wat kan gebeur. Dit is die grootste
sekerheid waaruit ons moet leef!

Oor verandering kan ons bid: Here Jesus,
verander my met U onveranderlike liefde.

Ernest