Die kerkvaders het tussen drie vorme van dood onderskei:
Geestelike dood – wanneer jy sonder Christus lewe.
Liggaamlike dood – wanneer jy sterf en begrawe word.
Ewige dood – wanneer jy sonder Christus sterf en ewig verlore is.
Ons kan die drie vorme onderskei, maar nie van mekaar skei nie.
Dit is alles fasette van die een somber werklikheid: die dood.
Jesus het hierdie somber werklikheid oorwin! Hy maak mense
wat geestelik dood was... lewend! Só verseker Jesus hulle liggaamlike
opstanding op die opstandingsdag, tot die ewige lewe! Jesus trek as’t
ware ‘n streep deur die woord “dood” en skryf “lewe” daaroor!
Geestelike, liggaamlike, en ewige LEWE!
Ons sien en hoor hierdie totale triomf oor die dood wanneer Paulus
in hierdie treffende woorde roem:
“Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons
oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle
gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit
die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee,
sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot
sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons
bewys het.” – Efesiërs 2:5-7.
Moenie aan die dood ‘n plek in jou lewe gee nie. Lees dit weer en
oordink dit: Moenie aan die dood ‘n plek in jou lewe gee nie.
Nie eers een millimeter nie. Vul jou gedagtes met die lewe!
Vul jou verwagtinge met die lewe! Vul jou dae en tye met die lewe!
Met die ewige ware lewe wat God uit genade in Christus aan jou
bewys het!
Ons kan bid: Here, laat my elke dag opstaan uit die dood,
en lééf in U, want die dood is dood.
Ernest