Die belydenis oor die opstanding van die liggaam getuig nie net
van 'n toekomstige gebeurtenis nie, maar ook van 'n huidige daaglikse
werklikheid. Ons moet besef: Dieselfde krag waardeur ons eendag sal
opstaan, is tans reeds in ons aan die werk! Dit wek ons nou telkens
weer uit die sonde uit op. Paulus sê ons moet verstaan hoe geweldig
groot die krag is wat God uitoefen in ons wat glo!
"Dit is dieselfde kragtige uitwerking van sy mag wat Hy uitgeoefen het
toe Hy Christus uit die dood opgewek het..." Efesiërs 1:19-20.
Die opstanding van Jesus roep ons elke dag op tot 'n opstanding uit
die dood van die sonde. Dit wek in ons die begeerte tot daaglikse
bekering. Om die ou mens af te sterwe en die nuwe mens te laat
opstaan. Die opstanding van Jesus maak ons opstandig teen die sonde
in ons eie lewe en in die wêreld. Jesus se opwekking uit die dood maak
ons opgewonde oor die krag van God wat in ons werk. Oor die hoop!
Dit beteken prakties dat ons nie maar ons sonde en kragteloosheid
verlief moet neem nie. Ons kán en móét tot bekering kom. Vandag!
Ons kan die sonde wat ons nou doen aflê. Ons kán uit ons skynbare
hooplose situasie kom! Nie omdat jy alleen daartoe in staat is nie,
maar omdat Jesus uit die graf is! Dáárdie krag werk in jou!
Miljoene mense is moeg vir die sleurgang van die lewe. Vir mense
met so 'n gemoedstemming is die belydenis van die opstanding van
die vlees soos 'n tonikum. Dit gee aan moeë moedelose mense
veerkrag in die lewe. In die lig van die opstanding kan Paulus mense
aanmoedig:
" Wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van
die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here
nie tevergeefs is nie." - 1 Korintiërs 15:58.
Omdat ons glo aan die opstanding van die vlees, is die lewe nie
maar net 'n nimmer-eindigende geslote sirkel waarin ons maar net
rondgeslinger word nie.
Met hierdie belydenis tree ons uit die moegheid en doodsheid -
die Lewe in! Die opstanding van Jesus en ons opstanding saam met
Hom gee aan ons aardse bestaan betekenis.
Lewe vir en saam met God!
Ons kan bid: Here, ek staan op, U hef my op. Here seën my,
om vir U te lewe in elke seisoen van die lewe.
Ernest