Die twaalfde en laaste artikel van die Twaalf Artikels, ons geloofsbelydenis,
lui soos volg: Ek glo aan “‘n ewige lewe”. Tel jou kop op en lééf! Jy hét ‘n
toekoms! Die toekoms hou altyd vir ons iets geheimsinnigs in. Die toekoms is...
die toekoms. Maar ons het tog ‘n baie belangrike rol te speel in die vorming
van ons môre. Ons kennis van wat God sê oor ons toekoms, moet elke dag
ons lewe kleur. Dit het ‘n groot effek op die nóú van ons lewe.
Dit is presies wat die belydenis “ek glo aan ‘n ewige lewe” doen! Dit kleur
ons toekoms en gee sekerheid oor ons toekoms by God. Ons bely nie daarmee
nét ons uitsien na “eendag” nie. Ons bely ook dat dit wat die Woord van God
ons oor die toekoms leer, vandag ons lewe kleur en ons manier van dink en
doen beïnvloed.
Let op: die term “ewige lewe” het nie in die Bybel ‘n uitsluitlik toekomstige
betekenis nie. Dié lewe word nou reeds geleef! Hierdie realiteit is in Christus
geopenbaar en strek verby ons huidige lewe die totale toekoms in. Want God
is die Een “wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” – Openbaring 1:8.
God is altyd daar! Daarom gaan ons die toekoms tegemoet saam met Hom,
en sonder vrees.
Calvyn het sterk aandag gegee aan die “bepeinsing van die toekomstige lewe”.
Ons kan nie die teenswoordige lewe ontvlug nie, maar ons kan dit juis in die
regte perspektief plaas en diepte en waarde daaraan gee omdat ons
“’n ewige lewe” bely. Dit rangskik ons prioriteite, gee ons lewende hoop,
en leer ons om in die teenwoordigheid van die Here hiér en nóú te leef.
Paulus kan aan die een kant sê dat gelowiges wat weet dat die wêreld aan die
verbygaan is, só moet aankoop dat hulle leef asof hulle niks besit nie – 1 Kor. 7:30,
maar aan die ander kant soos mense wat niks het nie, en tog alles besit! – 2 Kor. 6:10.
Wat jy het kan jy met dankbaarheid gebruik, maar dit vul nie jou hele lewe nie.
As jy dit alles sou verloor moet jy steeds kan sê: “Ek besit alles... want ek besit die
ewige toekoms by God”. Dit geld ons hele lewe. Alles en almal in ons lewe.
2 Kor. 6:10 sê “... as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles”.
Ons kan bid: Here, ek weet nie wat môre wag nie...
maar ek weet Wie wag in môre vir my.
Here, rig my vandag en elke dag op die toekoms by U.
Ernest