Om die ewige lewe te oordink in jou huidige lewe is om te bepeins
hoe jy nou reeds leef, met die oog op jou toekoms saam met God.
Jy leef daarom nou reeds saam met God. Dit raak die totale praktyk
van jou daaglikse lewe. Die ironie is dat ons so besig is met die lewe,
dat ons nie ons ewige lewe saam met God oordink nie. Ons bly dink
daar is nog ‘n môre en oormôre. Ons is besiger as wat die Here ons
wil hê, en “kry nie tyd” om nou reeds ons toekoms saam met Hom
te lewe nie!
C. S. Lewis vertel by wyse van spreke hieroor in sy bekende boek
“The Screwtape Letters” van die ou duiwel wat die jong duiwels leer
en aan hulle vra wat hulle dink die beste is om gelowiges op ‘n
dwaalspoor te bring. Die eerste leerling duiwel stel voor dat daar aan
die gelowiges gesê moet word daar is nie ‘n hemel nie. “Verkeerd”,
sê die ou duiwel. Die tweede leerling stel voor hulle moet vir gelowiges
sê daar is nie ‘n hel nie. “Weer verkeerd”, sê die ou duiwel, en gee sy raad:
“Julle hoef hulle nie te probeer oortuig dat daar nie ‘n hemel óf ‘n hel is nie.
Al wat julle moet doen, is om hulle te laat dink daar is géén haas om tussen
die twee te kies nie”.
Mens is nooit te oud of te jonk om oor die ewige lewe na te dink en te
besin nie. Die perspektief op “’n ewige lewe”, soos ons dit bely in ons geloof,
help ons om ons huidige lewe en leefwêreld in die regte konteks te plaas.
Jou jeug of ouderdom, siekte of gesondheid, rykdom of armoede, ideale of
teleurstellings, vind alles plaas binne die konteks van “’n ewige lewe” saam
met God wat nóú reeds geleef word.
Petrus praat van ‘n “lewende hoop” op die “onverganklike... erfenis” wat
in die hemel vir ons in bewaring gehou word – 1 Petrus 1:3-4. Die sleutel is:
Nóú reeds. Oefen jouself in dié lewende hoop! Dink gereeld na oor jou lewe,
jou ewige lewe. Die hemel. Jou toekoms by God. Dit bepaal hoe jy nou leef.
Ontdek hoe skatryk jy is. Dit gee jou lewensvreugde en moed vir die toekoms.
Daar is geen ander boodskap, geen ander belofte, wat naby die van die
evangelie kom nie. Die bruilofsmaal van die Lam is om die draai – Op. 19:9.
Ons kan bid: Here, ek steek my hande, my lewe uit na U.
Vul dit met die vrug van U toekoms, vir my.
Ernest