Die hele menslike geskiedenis stuur af op ‘n eindbestemming.
Alles verloop nie maar willekeurig nie. Die geskiedenis gaan oor in die ewigheid.
Ook my ewigheid. Calvyn het gesê: “Die mens is na die beeld van God geskape –
met sy gesig na die hemel gedraai.” Dit is ons vooruitsig en dit is waarvoor ons
lewe. In die volle heerlikheid van God.
Die wete moet ons tegelyk troos, en inspireer. Dit troos ons, want ons weet dat
ons lewe nie maar uitloop op niks nie. Dit troos ons ook omdat ons weet dat selfs
die “klein” dinge wat met ons gebeur, alles deel vorm van hiérdie gang na die
ewigheid.
Aan die ander kant moet dit ons baie inspireer, want ons weet dat ons deur
God self geroep is vir groot dinge. Die grootste dinge, ver bo ons gedagtes en
voorstellinge. Die nuwe hemel en nuwe aarde.

Ons word van tyd tot tyd moeg, selfs in die geloofstryd. Die dinge wat in die
wêreld en met onsself gebeur, maak ons soms moedeloos. Jesus het eenkeer
na aanleiding van die tekens van die tye sy dissipels met hierdie woorde
bemoedig: “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op,
want dan is julle verlossing naby.” – Lukas 21:28. Oordink net Jesus se woorde
hier aan ons. “...staan dan regop en lig julle kop op.” Doen dit.
Draai jou gesig hemelwaarts, soos Calvyn sê.

Baie dinge bly tot die einde van ons lewe ‘n misterie. Waarom moes een van my
geliefdes sterf, of só sterf? Waarom hierdie siekte? Waarom hierdie doring in my
vlees, soos by Paulus in 2 Kor. 12:7. Ons hoor nie altyd die antwoorde nie...
Paulus het dit ook ervaar en sê: “Nou ken ek net gedeeltelik...” – 1 Kor. 13:12.

Dit is soos ‘n kunstenaar wat op ‘n doek skilder. Jy verstaan eers nie die strepe en
kleurkolle nie. Dit maak nie sin nie. Dit lyk so deurmekaar. Eintlik onaansienlik.
Totdat... totdat jy die eindproduk sien. Dan maak alles sin. Dan eers verstaan jy
die belangrikheid, en dieper betekenis, van die vooraf arbeid op die skilder se doek.
Ons lewe is so. Die groot Kunstenaar, God, is met ons besig, om sy Goddelike doel
met ons te bereik. Die Bybel belowe dat ons eendag ten volle sal ken, soos God óns
ten volle ken – 1 Kor. 13:12. Die Kunstenaar wat met ons besig is, is die Meester.
God self. In Christus. Deur die Gees is ons.

Ons kan bid: Here, help my om my kop op te lig, en my gesig hemelwaarts te draai.
Voltooi my as U kunswerk.

Ernest