Daar is meer aan die lewe as bloot dit wat ons kan sien en ervaar.
Die dieper dimensies van die lewe kan maklik “misgekyk” word as ons
“eendimensioneel” leef. Daar is in die lewe onsekere en onverklaarbare dinge.
Ons kan nie alle vrae beantwoord nie. Wanneer ons wil hê alles moet wees
soos óns dit ervaar, of verstaan, mis ons baie van die lewe. Die lewe het veral
ook die baie belangrike dimensie na Bo! Die ganse lewe is deurdronge van die
dimensie van die ewige lewe. Ewige lewe. Johan Heyns, bekende teoloog,
het altyd gesê “die ewige lewe is hiér bý óns! Net hiér anderkant”. Dit is net
in ‘n ander dimensie wat ons nie kan sien nie. Maar dit ís daar! Hier!

Jesus het die dimensie na Bo aan ons kom openbaar. Ons kan nou al iets
daarvan sien en ervaar. Eendag sal ons dit in volle heerlikheid sien. Die Woord
van God beloof dit ook aan ons dat ons eendag “alles sal sien soos dit werklik is”
– 1 Kor. 13:12. Ons sal ook Jesus sien soos Hy werklik is – 1 Joh. 3:2.
Ons sal God sien! – Op. 22:4. Ons beleef dit soms dat ons in plat dimensies
vasgeloop is. Ons sien net voor ons hierdie wêreld en hierdie werklikheid.
Die ewige lewe en heerlikheid by God is deel van die werklikheid!

Ons is breekbaar. Baie keer gebroke. Die lewe is broos. Soms lê ons in ‘n
hopie op die vloer. Maar ons kan weet: Deur dit alles heen, in dit alles,
is God besig met ons om ons te vorm tot sy eer. Hy wat op die troon sit sê:
Kyk, Ek maak alles nuut – Op. 21:5. Deur alles heen is God besig om sy
koninkryk te laat kom, ook in mý lewe. Niks of niemand kan dit stuit nie.

Om dit raak te sien het ons meer as “gewone oë” nodig. Dit vra van ons
geloofs-visie! Om die Een wat op die troon sit, te sien! – Op. 4:2.
Die Here vra van ons geloofs-insig. Hy vra van ons om te onthou Wie op
die troon sit, tot in ewigheid. God is aan die stuur van die hele totale
skepping. Ook van jou en my lewe. Hy is die Almagtige!

Ons kan bid: Here, as ek platgeslaan word deur omstandighede, help my
om meer na Bo te lewe. Vorm my vir U toekoms. Open my oë om dieper
te kyk en U te sien.

Ernest