Wanneer ons in die Openbaring boek in die ewige toekoms inkyk,
sien ons bó alles… vir God! Johannes hoor in sy visioen ‘n harde stem
van die troon af wat sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense.
Hy sal by hulle bly: hulle sal sy volk wees, en God self sal by hulle wees as
hulle God.” – Openbaring 21:3.
Kan enige belofte mooier wees as dit? Om God te sien! Om ewig by Hom
te bly. En Hy by ons! Dit is hierna wat die gelowiges van die Ou Testament
en die Nuwe Testament uitgesien het. Dit is hierna wat óns uitsien, bó alles!
Ons verlang daarna, ons hunker daarna. Hierop stuur die hele heilsgeskiedenis
af. Dit is die fokuspunt van ons hoop. Dan sien ons alles soos dit werklik is
– 1 Kor. 13:12.

Nou die belangrike: Die ewige lewe begin in die hede! Dit begin vir ons
wanneer ons ons geloofsvertroue in Jesus Christus plaas. Die ewige lewe is nie
in die eerste plek ‘n “plek” of ‘n tydsaanduiding nie, maar verál ‘n verhouding.
Dit is ‘n verhouding met God, die Draer en die Gewer van dié ewige lewe!
In sy gebed tot sy Vader sê Jesus aangaande Homself: “U het Hom (Jesus)
immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom
gegee het, die ewige lewe te gee. En dít is die ewige lewe: dat hulle U ken,
die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” – Joh. 17:2-3.
Lees weer hierdie waarheid. Dit is waaroor alles gaan...

Ferdinand Deist het dit só geformuleer: Wie in Christus glo, wie in Hom bly,
wie deur Hom aangestel is in en vir die liefde, hét die ewige lewe. Nou reeds.
Daarom is die ewige lewe nie ééndag nie. Die ewige lewe is nie ánderkant
die graf nie. Want hóé sou ons die ewige lewe kon hê (1 Joh. 5:11-13), as dit
eers anderkant dié lewe begin het? Nee, die ewige lewe is hier, hier waar
ons vandag is. As jy in die liefde van Christus is, hoef jy nie te hoop op die
ewige lewe nie, want dan het jy dit, nóú reeds.
Jy is nou reeds ‘n verteenwoordiger van God in hierdie wêreld.
Daarom praat ons ook van geloof-sekerheid!

Die ewige lewe is geopenbaar in Jesus, die eniggebore Seun van God.
In ‘n stal in Betlehem, op die eerste Kersnag... Dit is híér!
Ons het dit nou reeds. Het dit al vir jóú begin? Het jý dit?

Ons kan bid: Here, die hemel is waar U is. Bly by my. Dankie Here,
dat ek nou reeds die ewige lewe het. Want U het my, en ek het U.

Ernest