Só seker is dit dat God by ons sal wees, dat dit in ‘n profetiese verledetydsvorm
gesê word: “Dit het klaar gebeur!” – Openbaring 21:6. Niks kan meer seker wees
as dit nie! God gáán by ons wees! Meer nog, die Een wat by ons gaan wees, is
dieselfde God wat nou reeds deur sy Gees en in Jesus by ons is.
Die toekoms breek alreeds in die hede in. Dit is die bedoeling van die Openbaring
-boek: om die hede te sien en te verander in die lig van die toekoms. Dit is waar
ons roeping lê. Die feit dat alles aan die einde nuut gemaak gaan word, roep ons
wat dit insien op, om die hede nuut te wil maak.
Wanneer ons in die 12 Artikels bely dat ons glo aan ‘n ewige lewe, dan in ons nie
daarmee wêreldvreemde ontvlugters uit die hede nie. Nee, met die oog op die
toekoms wat kom, werk ons deur die Gees ín en áán die hede. Ons doen dit in
ons totale menswees. Ons wil in ons hele lewe die ewigheid sigbaar maak.
Die ewige lewe bestaan uit liefde. Paulus het ook gesê die liefde vergaan
nooit nie. Die ewige lewe is die finale triomf van die liefde. God is liefde.
Die ewige lewe is die finale vervulling van die wet:
Liefde vir God en vir die naaste. In die ewigheid sal al die ander gawes
verdwyn – 1 Kor. 13:8. Slegs die nimmereindigende goddelike liefde bly oor.
1 Johannes 3:14 sê treffend: “Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe
oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.”
Daarom is ons ewige toekoms nie ‘n vreemde saak nie. Ons beleef nou al dit
waaroor dit in die toekoms sal gaan. Ons word, deurdat ons God en ons
naaste liefhet, as’t ware ingelei in die ewigheid.
Hoe moet ons ons op die ewigheid voorberei? Die antwoord is eenvoudig:
Deur lief te hê! God bo alles, en jou naaste met God se liefde.
Nie met “gewone” menslike liefde nie. Maar met dié liefde wat God op die
eerste Kersnag in sy Seun geopenbaar het, en deur sy Gees in ons harte
uitgestort het. Dié liefde bring die ewigheid bý ons en ín ons!
Ons kan bid: Here, maak my nuut, sodat ek ook nuut kan maak.
Leer my om lief te hê en die ewigheid te smaak.
Ernest