Ons het die afgelope 4 maande saam besin oor die inhoud van
die geloof wat ons bely en lééf. Ons het dit gedoen aan die hand van
een van ons belydenisskrifte wat ons gereeld in die eredienste bely.
So gereeld bely ons: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige...”, en wat
daarop volg. Die Twaalf Artikels is só bekend aan ons. Dit word ook die
Apostolicum, Apostoliese Geloofsbelydenis, of die Credo (ek glo) genoem.

Omdat ons dit so gereeld bely moet ons waak teen die gevaar dat dit maar
net ‘n meganiese handeling word. Net nog ‘n kerklike ritueel. Ons dink nie
meer wat ons sê en doen ten opsigte van die geloof wat ons bely nie.
Die afgelope vier maande se “Woord vir Lewe” wou ons help om opnuut
waarlik te gló, te belý en te lééf... wat ons gló.
Om weer dankbaar aangegryp te word...
deur die geloof wat die Heilige Gees in ons werk!

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is die apostoliese evangelie, dit wil sê
die evangelie soos die apostels dit verkondig het, in kort saamgevat.
Dit is die oudste van alle Christelike belydenisse en dateer in sy oorspronklike
vorm so ver terug as 120 n.C. Met die tyd is dit geskaaf en uitgebrei, en soos
ons dit vandag ken, kom dit uit ongeveer die vyfde eeu na Christus.

Dit het die toets van die eeue deurstaan, deur vervolging en brandstapels heen.
Hierdie belydenis kon stand hou deur ‘n vyandige wêreld heen, tot vandag toe.
Dikwels het gelowiges niks anders gehad om aan vas te hou as hierdie belydenis
wat hulle geken het nie. Bybels is hulle ontneem.
Die waarde van hierdie Geloofsbelydenis is dat dit juis net wil sê wat die Woord
van God sê. Die hoofsaak van die evangelie, kernagtig verwoord.
Want die belydenis moet óók die toets van die Woord van God deurstaan!

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is opgebou rondom die werk van die
drie-enige God. In die eerste sewe artikels val die klem agtereenvolgens op
die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die volgende, laaste vyf, artikels spel
vir ons uit wat die vrug van die werk van die drie-enige God is. Ons moet die
inhoud van hierdie geloofsbelydenis kén en verstaan... aangesien dit in die
toekoms van die Christelike geloof al hoe belangriker gaan word!

Gelowiges word al hoe meer gedwing om rekenskap van hulle geloof te gee.
Ons moet waarlik glo wat ons bely, en ons moet dit dag tot dag gaan uitleef
in hierdie wêreld as verteenwoordigers van die drie-enige God!
Die Geloofsbelydenis verinnig ons geloof. Dit verdryf ons twyfel. Dit versterk
ons vreugde. Deur die Geloofsbelydenis word ons ook as kinders van God
aan mekaar gebind, en gevul met vergifnis en hóóp...
Dit kan ook gebid word, ter versterking van geloof!

Die nuwe jaar, 2024, lê nou voor ons. En ook ons toekoms saam met God,
elke dag. Mag ons elke nuwe dag met nuwe vreugde en sekerheid kan bely:
“Ek glo in God...”, in Hom wat elke dag gaan vul met sy genade...! Amen!

Ons kan aan die einde van 2023 en die begin van 2024 bid:
Here, God Almagtig! Amen! Halleluja!

Ernest