WAAG DIT OM TE VERLOOR!
“Wen is nie alles nie, dit is die enigste”, is baie keer wat ons ons kinders of kleinkinders leer en mekaar wysmaak. As jy wen, is jy aanvaarbaar, maar as jy verloor is jy ‘n mislukking. Wat ‘n hartseer siening! ‘n Mens wen nie altyd nie, en hoef ook nie altyd te wen nie. “Some you win,and some you loose”. Dit is die realiteit van die lewe. En dat jy waarskynlik meer keer gaan verloor, as wat jy gaan wen. Dit is trouens baie makliker om met ‘n glimlag te wen, as om met ‘n glimlag te verloor! Sportmanskap! So jaag ons na prestasie en sukses, maar verloor ons ons menswees en die vorming van ons menswees (ook deur verloor) wat ons sou help om ware mens te kon wees...
Ken jy oorwinning? ‘n Ander woord is sukses, en ken jy mislukking? Dit is vir niemand lekker om te verloor nie. Dit is ook vir niemand lekker om afskeid te neem van mense, dinge, waardigheid, respek, gerief, selfvertroue, ens. nie. Maar soms is daar ‘n wins in die verlies!
Leer ons Here, Jesus Christus ons dan nie in Lukas 9:24 nie: “want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou?” Die implikasie is dus dat jy jouself kan wen deur jouself te verloor. Wat is dit wat ‘n sportman/vrou of ‘n atleet motiveer om hulle beste te doen, te gee en te word? Is dit die hoeveelheid kere wat hy/sy gewen het, of die hoeveelheid keer wat hy/sy verloor het? Wat maak jou beter? Wen, of verloor? En dan, aanhou en uithou?
Oorwinning bring bevrediging en selfvertroue, verloor bring frustrasie en moedeloosheid. Maar hoe sal ons aanhou en uithou om te strewe na beter? In Johannes 16:33 verseker Jesus ons: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Dit beteken dat dit nie noodwendig altyd maklik gaan wees nie, maar dat die Here reeds die oorwinning behaal het. En in sy Naam kan ons ook wen, al verloor ons...
Dalk lê die geheim van ware oorwinning in Romeine 8:37: “Maar in al hierdie dinge (gaan lees gerus wat hy alles hierby insluit), is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Dalk is wen nie alles of die enigste nie, maar die feit dat God ons liefhet en met ons ‘n pad loop, die waarheid wat jou en my lewe rig! Jesus Christus het reeds oorwin sodat ek en jy, meer as oorwinnaars kan wees deur Hom! Of ons nou wen of verloor!
Wat is daar dan wat ek en jy sou kon wen of verloor, wat ons nie reeds in Jesus Christus en God se liefde ontvang en gewen het nie? Gaan wees dan MEER AS ‘N OORWINNAAR – nie deur jou eie krag nie, maar deur HOM WAT JOU LIEFHET!!!
Vrede!
Nelius