Markus 9:13 sê:
“Maar luister nou mooi wat Ek vir julle sê:
Elia was al hier.
Mense het met hom ook gemaak wat hulle wou,
Presies soos ons in die Skrif oor hom lees.”

Hierdie woorde van Jesus impliseer dat mense
ook met Jesus maak net wat hulle wil.
Die dissipels verstaan nie Jesus se woorde oor die dood en die opstanding nie.
Daarom karring hulle aan oor Elia.
Hulle verstaan nie regtig watter soort Messias Jesus is nie.
Hulle dink bloot Hy gaan die Jode se politieke vyande verslaan.
Hulle besef nie dat Hy díé vyand van alle vyande gaan verslaan nie.

George Matheson, die bekende prediker in Skotland van lank gelede,
vertel van ‘n vrou in sy gemeente in Edinburgh
wat in ‘n muwwerige kelder gewoon het.
Donker, vuil, en bedompig.
Later het hulle haar weer gaan besoek en toe het sy weggetrek.
Hulle het haar later in ‘n dakvertrek opgespoor.
Sy was steeds baie arm.
Maar die dakkamer was vol lig, vars en skoon.
Sy het vertel dat jy nie na George Matheson se boodskap oor Jesus kan luister
en steeds in ‘n kelder kan woon nie.
Die Here haal jou uit die donker muwwerige kelder van die lewe, en sit jou in die lig!

Jy het ook die keuse om “met die Here te maak wat jy wil.”
Gooi ook jou vensters van jou lewe oop!
Laat die Here se lig inskyn!
Lewe in die varsheid van die nuwe lewe.
Fokus op die Here om Wie die lewe draai!

Ernest