"Want uit sy oorvloedige maat,
het ons ALLES ontvang,
ook genade op genade!
Want die Wet het deur Moses gekom,
Die genade en waarheid
het deur Jesus Christus gekom!"
(Joh 1:16-17)
Soms besef ons dat ons droog gemaak het.
Kanse op kanse het ons verspeel,
en nou dra ons die gebakte pere.
"My lewe is 'n gemors,
en dis my eie skuld".
Dit is wat die Wet sê:
keuses het gevolge!
Maar Christus het nie gekom om die wet te bring nie.
Hy sê self:
"Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie,
ek het gekom om die wêreld te red!" (Joh 12:47)
Aan die een kan beteken genade dat ons die goeie kry wat ons nie verdien nie,
aan die ander kant beteken dit ons ontvang nié die slegte dinge wat ons wel verdien nie.
Jesus skenk sy oorvloedige genade juis aan die wat verdwaal het!
Dit is waar vir die "slegte vrou" wat met haar trane Sy voete gewas het!
Dit is waar vir Paulus wat Christene tot die dood toe vervolg het!
Dit is waar vir die rower wat langs hom gekruisig is!
Dit is verseker waar vir my en vir jou!
Ashton