"Nie deur krag nie,
en nie deur mag nie,
maar deur My Gees!"
(Sag 4:6)
Onder die leiding van hul goewerneur, Serubbabel,
probeer die Judeërs die tempel herbou wat meer as vyftig jaar tevore verwoes was.
Die tempel is hul baken van hoop.
Hoop dat die land sal herstel.
Maar daar is probleme...
Op die politieke front is daar mense wat gekant is teen die herbou van Jerusalem.
Hulle probeer die keiser oorhaal om dit stop te sit.
Op die militêre front wil die nasies rondom die stad die bouers gewelddadig stopsit.
Met wapens toegerus, loop hulle dreigend verby die stad wat se mure afgebreek is.
'n Gees van onsekerheid heers in die stad.
Sommiges meen daar is geen hoop nie,
die land se vyande is te veel!
Ander is vol ywer,
hulle wil self swaard opneem en hul vyande gewelddadig oorwin!
Serubbabel is radeloos.
Dan antwoord die Here hom:
Die tempel sal inderdaad herstel word,
maar dit sal nie gebeur deur die buitengewone vaardigheid van 'n mens nie.
Dit sal ook nie gebeur deur militêre mag nie.
Dit sal gebeur deur God se Gees
wat deur klein dingetjies groot dinge laat gebeur!
God se Gees is nie afhanklik van sterk mense nie,
daarom kon 'n skaapwagter-seuntjie die reus Goliat verslaan.
God se Gees is nie afhanklik van besondere vaardige mense nie,
daarom kon die spraak-gestremde Moses 'n hele volk lei.
God se Gees is nie afhanklik van hoog-gestelde mense nie,
daarom kon 'n klomp ongeletterde vissermanne die Evangelie aan die wêreld verkondig.
Al wat die volk hoef te doen, is bou!
Groot dinge, hoef nie in groot dade te lê nie.
Dit lê veel eerder daarin
om 'n honger mens kos te gee,
om die vreemdeling langs ons op die vliegtuig te bemoedig,
om uit te help by 'n kerkbasaar,
om terug te ry om kleingeld wat 'n kassier te veel gegee het, terug te gee.
Soos die Gees ons lei!
"Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie!"
(Sag 4:10)
Ashton