"Vertrou op die Here met jou hele hart
Steun nie op jou eie insig nie,
maar ken Hom in al jou weë,
en Hy sal jou paaie gelykmaak"
(Spr 3:5-6)
'n Klein kindjie was nuuskierig oor 'n blik skoenpolitoer
wat sy ma huis toe gebring het.
Sy ma het hom mooi laat verstaan hy moet die blik uitlos.
Toe sy ma nie kyk nie,
steel hy die blik en gaan na sy kammer waar ma hom nie kon sien nie.
Soos hy met die politoer speel kry hy dit op sy hande en sy gesig.
Bang vir wat sy ma sal doen as sy hom sien, probeer hy dit vinnig afwas.
Met al die gevryf, versprei hy net die politoer tot sy hele gesig bedek was daarmee.
Radeloos gaan huil hy uiteindelik by sy ma,
sy sal verseker weet wat om te doen.
Ons is dikwels net so eie wys.
Elke slegte keuse wat ons maak,
lyk op daardie oomblik soos goeie idee.
Dan dra ons die gevolge.
En net soos hierdie seuntjie,
beraam ons dan planne om die situasie te red,
net om dinge slegter te maak.
Dan raak ons radeloos,
en verlore.
Die Here het die heelal geskep,
hy sal sekerlik weet wat om te doen!
En die Here is nie so ver weg,
dat ons nie Sy hulp kan vra nie.
Ons het sy Woord, om vir ons die regte pad te leer.
Ons het sy Seun, om vir ons die regte pad te wys.
Ons het sy Gees, om ons op daardie pad te lei.
Al wat dit van ons eis,
is om te vra,
en om te luister.
So sê die Here:
"Soek my!
en leef!"
(Amos 5:4)
Ashton