In ‘n fabel eeue terug, word die verhaal vertel van ‘n dogter se liefde vir haar pa. Haar pa was ‘n koning en het op ‘n dag aan sy drie dogters ‘n vraag gestel. Op die vraag van hul vader, die koning, oor hoe lief hulle vir hom is, het die drie prinsesse verskillend geantwoord: Die een het gesê, ek is so lief vir Pa soos vir goud... die tweede dogter, ek is so lief vir Pa soos vir silwer en edelstene. Die derde dogter egter het gesê: Ek is so lief vir Pa soos vir sout! Dit was sy jongste dogter en sy oogappel.
Diep geaffronteer het die koning sy jongste dogter uitgeskel, verban en weggestuur, verbeel jou... so lief vir my soos sout? Wat ‘n belediging en vernedering! En toe kom daar ‘n hongersnood en ‘n gebrek aan kos. Ook aan geneesmiddels en medisyne. En sout word skaars... Die koning se opinie het stadigaan verander. Hy het besef die liefde vir goud was klatergoud en die vergelyking met silwer en edelstene niksseggend, maar sout... Sout was lewe!
Ek het nou die dag gaan sout koop. Nie bloot as ‘n spesery of vir huishoudelike gebruik nie, maar vir boerdery. 50kg sakke. ‘n Mens kry blykbaar drie grade sout, 1, 2 en 3. Dit gaan oor die suiwerheid en konsentrasie van die sout. Graad 1 kan jy vir mense gebruik, graad 2 vir swembaddens en huishoudelike gebruik en graad 3 vir vermenging van voedsels vir diere, of die presevering van velle. Maar, hoe dit ook al sy, sout is goud! ‘n Wonderlike kommoditeit.
In Bybelse terme was sout ‘n aanduiding van smaak en reiniging. Sout het smaak gegee soos nou nog (wat is pap sonder sout?), en sout was, soos vandag nog, een van die hoofbestandele van medisyne – sterilisasie en reininging van wonde. Selfs in ons spreektaal sal ons van mense praat as die sout van die aarde, m.a.w. goeie mense!
Jesus sê in Matteus 5:13... Julle is die sout van die aarde en in Kolossense 4:6 staan daar: Laat julle woorde met sout besprinkel wees. Wat bedoel ons Here en wat vra die kindskap van God van ons? Ons moet SOUT wees!
Dat ons menswees enersyds moet smaak gee aan die lewe en andersyds mense moet heelmaak. Ons teenwoordigheid en insette in mense se lewe moet smaakvol wees en lewe bring! En dat ons woorde reinigend en smaakvol moet wees vir mense, sodat hulle iets van die teenwoordigheid van God sal beleef. Ons is en moet die sout van die aarde wees! So watter effek het jy en ek op die mense rondom ons? Is jy sout of is jy gif?
Vrede!
Nelius