Leef uit sy Lig!
Lig is ‘n lewensnoodsaaklike en verbysterende skeppingsordening van God. Die heel eerste skeppingsbevel van God was: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig was goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig toe “dag” genoem en die donker het Hy “nag” genoem.... Dit was die eerste dag. (Genesis 1:3-5). En wanneer Hy sy Seun na die verlore mensdom stuur, verklaar Hy: “Die ware lig wat die wêreld verlig, was aan kom na die wêreld toe.” (Johannes 1:9) en “Dit is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1 Johannes 1:5).
Wanneer God dan amper die mensdom uitdelg weens ons sonde, maar tog besluit om ons genadig te wees, gee Hy aan die mens ‘n teken van hierdie lig – die reënboog! Genesis 9:16: “Die reënboog sal in die wolke wees en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op aarde.” ‘n Reënboog word gevorm en is sigbaar wanneer daar genoegsame vog in die lug is en die waterdruppels die lig “opbreek” in verskillende kleure.
In die wetenskap leer ons van hierdie opbreking van lig in verskillende spektrums. ‘n Driehoekige prisma (lens) word gebruik om die wit (neutrale) lig se golflengtes/frekwensies in terme van kleur in bande op te breek. Dit is fassinerend en aangrypend om dit te sien. Die sigbare ligspektrum is die lig wat ons met die blote oog kan sien. Het jy al ooit gewonder waarom alles kleurvol is, en nie net swart en wit nie? Het jy al ooit 'n reënboog, selfs twee, gesien en gewonder waar al die kleure vandaan kom? Die kleure wat ons elke dag sien, maak deel uit van die sigbare ligspektrum. Dit is veelseggend dat lig in segmente van sewe kleure opgebreek word! Rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo en violet. In sigbare lig het rooi en oranje die langste golflengtes (en laagste frekwensies) en blou, indigo en violet die kortste golflengtes (en hoogste frekwensies).
En dan kom Jesus Christus, die Lig van die wêreld na sy dissipels, ook na jou en my en sê: “Ek is die Lig vir die wêreld. Wie my volg sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Johannes 8:12) en op ‘n ander plek: “Julle is die lig vir die wêreld... Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik.” (Matteus 5:14-16). En dan bring Hy dit ook in verband met my en jou sondigheid én redding: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.” (1 Johannes 1:7). Aangrypend!
Jesus Christus, die Lig van en vir die wêreld het dus gekom om ook vir my en jou die lig te laat sien. En so ons donker lewe op te breek in verskillende vrolike kleure. Sodat ons in en uit en deur sy lig kan lewe en dit kan weerspieël – as ‘n teken van hoop en genade, soos wat die reënboog wys. Leef jy in die lig? Leef jy die lig uit? Weerspieël jy dit? Gaan wees lig!!! En onthou “God wat gesê het: Laat daar lig skyn uit hierdie duisternis, het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat van Jesus Christus uitstraal.”
(2 Korintiërs 4:6).
Vrede!
Nelius