Geloof, hoop en liefde is drie van die basiese boustene van die Christelike geloof wat Christenskap uniek maak. In 1 Korintiërs 13 wy Paulus ‘n hele hoofstuk aan hierdie drie gawes. In die vorige hoofstuk sê hy dat ons ons op die beste genadegawes moet toelê en dan eindig 1 Korintiërs 13 met hierdie uiteensetting van die drie beste genadegawes: “En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie en die grootste hiervan is die liefde!”
Maar kom ons dink ‘n oomblik na oor hoop. Wat is hoop? Wat of wie gee vir ons hoop? Wat sal hoop vir ons hier en nou beteken? Daar is natuurlik ‘n hoop en ‘n Bybelse sekerheid oor die ewige lewe, maar ons sal in ‘n volgende rondte daaroor praat. Wat van hier en nou? Ons beskou hoop baie keer as ‘n seënwens of ‘n begeerte, maar eintlik is Hoop... God! Hoop is nie iets nie, maar Iemand! Die pragtige spreekwoord in Afrikaans sê: Waar daar lewe is, is daar hoop. Maar sê nou maar dit is eintlik omgekeerd? “Waar daar hoop is, is daar lewe?” Dit is ‘n perspekief wat ons kan help om uit te hou en aan te hou om te glo, lief te hê en te vertrou.
Hoop is die belangrikste behoefte en gebrek in ons lewe vandag. Ons beleef ongelukkig baie hooploosheid en hopeloosheid hedendaags. Wat gaan met ons en ons geliefdes gebeur? Het ons enigsins ‘n toekoms? Wat word van die wêreld? Dit is natuurlik nie iets nuuts nie. Jeremia druk sy belewenis so uit en sê al in Klaagliedere 3:18: “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here.” Maar, op grond van die liefde en genade van God deur ons Here Jesus Christus, kan ons aan die volgende woorde vashou en ons liefde en geloof hierop bou: “Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.” (Kolossense 1:5). Goeie nuus!
Waar ons ons dan ook al in hierdie wêreld bevind en wat ons ook al beleef, sal ons dus tog nog saam met Jeremia kan sê: “Maar dit sal ek ter harte neem, en om die rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut.” (Klaagliedere 3:22). Paulus sluit in Romeine hierby aan: “Ons is immers gered en ons het nou hierdie hoop.” (Romeine 8:24a). Eintlik moet ons verklaar: Die Hoop het ons, want God in Jesus Christus is ons hoop! En daarom kan ons hoopvol lewe!
Kom ek en getuig dan saam met Jeremia: “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Met die versekering wat ‘n belofte van God is: “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,...” (.Klaagliedere 3:25). Hou aan hoop! Kom ons gaan leef dan hoopvol met en vanuit hoop, want waar daar Hoop is, is daar lewe! God is ons Hoop!
Leef Hoopvol!
Vrede!
Nelius