"Ek sal jou onderrig
en ek sal jou die paaie wys wat jy moet loop
laat my oë vir jou raad gee!
Moenie wees soos 'n perd, soos 'n muil,
wat nie onderskeidingsvermoë het nie
Met toom en stang moet sy wil beheer word,
anders kom hy nie naby jou nie."
(Psalm 32:8-9)
Hier belowe die Here dat Hy ons sal lei op al ons paaie.
Ons soek veral die Here se raad in belangrike besluite:
'n Besigheidsbelegging,
'n Beroepskeuse,
'n Romantiese verhouding.
Dan soek ons 'n "teken van die Here".
Ander kere bid ons en maak die Bybel oop by 'n vers en verstaan dit as God se antwoord.
Nog ander kere verstaan ons 'n gevoel wat ons in ons bors het as "die stem van die Here".
Ons wil in der waarheid hê God moet ons lei soos 'n mens 'n perd lei:
met toom en stang.
Natuurlik gebeur dit so dat die Here met ons op baie maniere praat,
en dan moet ons luister!
Maar dit is nie die soort leiding wat hy hier aan ons belowe nie.
En Hy maak nie ons keuse vir ons nie.
Hy belowe aan ons "onderskeidingsvermoë".
Die Hebreeuse woord daarvoor is "bien".
Dis dieselfde woord wat ons in Genesis 1 kry wat vertel hoe God "onderskeid" gemaak het:
tussen (bien) lig en donker
tussen waters bo die uitspansel en die waters daaronder
tussen droë grond en see.
As ons ons lewenspad saam die Here loop,
help Hy ons om te onderskei:
tussen wat goed is en wat sleg is,
tussen wat belangrik is, en wat onbelangrik is,
tussen wat betroubaar is en wat onbetroubaar is.
By elke kruispad,
by elke belangrike en selfs ook (volgens ons) "onbelangrike" keuse,
gee die Here vir ons onderskeidingsvermoë.
En:
"Indien enigiemand van julle wysheid kortkom,
laat hy dit van God vra,
wat eenvoudig aan almal gee,
sonder verwyt,
en dit sál aan hom gegee word!"
(Jak 1:5)
Ashton