"Jy moet weet hoe om jou in die huishouding van God te gedra:
Dit is die kerk van die Lewende God,
'n pilaar en 'n fondament van die waarheid
En die geheimenis van die ware godsdiens,
is sonder twyfel groot."
(1Tim 3:15-16)

Die antieke mense het geglo dat voor enigiets geskep was,
was alles sonder orde.
Die Grieke het dit "Chaos" genoem.
Genesis sê ook die aarde was "woes en leeg".
Toe skep God orde uit die chaos,
en lewe is skielik moontlik.

Die "geheimenis" (Musterion in Grieks) waarvan ons hier lees,
is geheime kennis van hoe die "kosmiese orde" wat God geskep het, lyk.
Die doel van "godsdiens" (Eusebeia in Grieks),
is om daardie orde in stand te hou.

Indien mense ooit Eusebeia nalaat,
en nie kosmiese orde in stand hoe nie,
gaan Chaos terug kom!

In hierdie teks herinner Paulus ons dat die kerk
kenners en bewaarders van die waarheid is!
Maar dit is nie maar net 'n aanhang van "suiwer leer",
soos baie meen nie.

Wanneer leuens seevier,
is daar Chaos.
Wanneer iets op 'n fondament van waarheid gebou is,
kom daar orde en stabiliteit.

Omdat ons die Waarheid ken,
omdat ons die beliggaming van die Waarheid (Christus) is,
omdat ons die geheimenis van God se kosmiese orde ken,
moet ons die Waarheid nie net ken en verkondig nie,
maar laat grondvat,
in ons gemeenskap,
en in ons land!

En hierdie is die geheimenis:
"want deur Hom
het God alles geskep:
alles in die hemel en op die aarde,
die sigbare en die onsigbare dinge,
of dit koninklike of heersende magte,
owerhede of gesagvoerders is –
alles is deur Hom
en tot Hom geskep.
Hy het voor alles bestaan,
en in Hom hou alles stand.
Hy is die Hoof van die liggaam,
die kerk."
(Kol 1:16-18)

Ashton